Dié vakbond het met Suidwes, NWK, OVK, GWK, VKB, NTK en Senwes ooreengestem tot 'n minimum verhoging van 8% en 'n gemiddelde verhoging van 10%.
Onderhandelinge met Obaro, 'n afdeling van die MGK-groep, is nog nie afgehandel nie, maar sal na verwagting op 26 Februarie afsluit. Die ooreenkoms is vir jaar lank geldig en sal by NTK, NWK, Suidwes en VKB op 1 Maart in werking tree, terwyl dit op 1 April by OVK en Senwes sal intree.
"Die landbou vorm 'n belangrike rugsteun in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Ingevolge syfers wat deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is, kry kommersiële boere reeds sedert 2002 'n aansienlik beter inkomste. Landboumaatskappye dra nie net by tot dié sukses nie, maar kry ook tot 'n groot mate 'n deel daarvan. Daar is bevind dat, benewens salarisse en lone, die grootste uitgawe in die landboubedryf die koop van voorraad, veevoer, brandstof en kunsmis is," sê mnr. Jaco Kleynhans, woordvoerder.
23 Februarie 2009