
Die Suid-Afrikaanse Makadamiakwekersvereniging (Samak) gaan ’n amptelike versoek tot die Nasionale Bemarkingsraad (NBR) rig vir die instel van statutêre heffings waarmee die bedryf sy aktiwiteite kan finansier.
Mnr. Derek Donkin, hoofbestuurder van Subtrop, die oorkoepelende kwekersvereniging vir die avokado-, lietsjie-, makadamianeut- en mangobedrywe, sê elke bedryf het geld nodig om aktiwiteite soos die administrasie, die voorligtingsdienste, navorsing en bemarking te finansier.
Juis daarom het die Samak-bestuur die moontlike instelling van statutêre heffings tydens ’n reeks inligtingsvergaderings teen die einde van verlede jaar (2013) met sy lede bespreek en is oor die aangeleentheid gestem.
'n Totaal van 79% van die Samak-lede, met ’n gesamentlike produksie van 38 000 ton neut-in-dop (droog) in 2013, het die vergaderings bygewoon en oor die kwessie gestem. “Altesame 70% van die stemme, wat 72% van die produksie verteenwoordig, het ten gunste van statutêre heffings gestem. Die Samak gaan nou ’n amptelike versoek vir die instel van die heffings tot die NBR rig,” sê Donkin.