
Laat lente verlede jaar is vrugteboere in Ceres en die Witzenberg-streek in die Wes-Kaap op hul knieë gedwing ná die ergste haelstorm in 50 jaar oeste verinneweer het. Boere was platgeslaan. “Al wat ons kon doen, was om te staan en kyk hoe die hael ons boorde en wingerd hamer – een van daai dinge wat ’n boer vrees”, sê Handri Conradie wat ’n paar kilometer buite Ceres aan die voet van die Gydopas met vrugte boer.
“Vir almal wat heeljaar deur hard aan die jaar se oes gewerk het, is dit sielsvernietigend en baie emosioneel om te sien hoe dit in ’n oogwink weggevat word. Dit laat jou net weer besef dat ons nie die natuur kan beheer nie en dat jy nie sal oorleef in hierdie spel sonder geloof, hoop en passie nie.”
Mauritz Walters, nog ’n vrugteboer met boorde in Ceres en in Prince Alfred Hamlet het 85% skade aan sy oeste in sy Ceres-boorde gehad en moes byna sy hele oes aan smouse verkoop. “Gelukkig het die boorde in Hamlet nie so seer gekry nie. Dit het darem ’n bietjie gehelp. Ons ken nie hael hier by ons nie, veral nie daardie tyd van die jaar nie. Dit was totaal onverwags en ongekend,” sê Mauritz.
Dis nie net die boere wat deur groot verliese in die gesig gestaar is nie. Die nagevolge van die storm was verreikend en het ook ’n regstreekse invloed op plaaswerkers en vrugtebemarkers gehad. Iets moes gedoen word om te help.
Nou het Tru-Cape, ’n vrugtebemarkingsmaatskappy, ’n veldtog begin om steun te bied aan hul produsente in die gebied wie se oeste (en inkomste) deur die hael verwoes is. “Van die 27 vrugteboere uit die Ceres-omgewing wat vir Tru-Cape pak, het net sewe vanjaar ’n normale, bemarkbare oes gehad. Sommige boere se hele oes is deur die hael vernietig. Dit was ’n wrede ontnugtering om so daaraan herinner te word dat die mens nie in beheer is nie. Dit het my net weer laat besef watter groot risiko aan boerdery verbonde is”, sê Roelf Pienaar, nuut aangestelde besturende direkteur van Tru-Cape Vrugtebemarking.
Die belangrikste hekkie om te oorkom, is om verbruikers se ingesteldheid te verander en groter begrip by hulle te kweek oor haelbeskadigde vrugte. Daarom is die veldtog “Lelik is die nuwe mooi” (#uglypretty) op sosiale media begin. Die doel is om verbruikers anders na ’n appel of ’n peer met ’n merkie op te laat kyk. Om hulle te oortuig dat ’n vrug met ’n merkie op net so smaaklik is en net so goed is vir jou soos ’n perfekte appel of peer met ’n gladde skil.
Freshmark, die afdeling vir vars groente en vrugte van Shoprite Checkers, ondersteun die veldtog en het ’n groot bestelling vir #uglypretty-appels geplaas. Hulle het besluit op ’n spesiale verpakking vir die vrugte sodat verbruikers presies weet wat hulle koop.
Die 1,5-kg-sakkie appels is maklik uitkenbaar. Die woord Ceres is groot daarop aangebring saam met ’n illustrasie van ’n vriendelike appel wat ’n sambreel vashou om te keer teen die hael. So ’n sakkie haelbeskadigde appels verkoop vir tussen 20% tot 25% goedkoper as wat dieselfde grootte sak onbeskadigde appels kos.
Volgnes The Independent het die Britse supermarkgroep Waitrose ook begin om appels met sogenaamde "weerletsels" te bemark. Die kettinggroep sê dit is ook 'n veldtog om die vermorsing van kos te verminder.