
Die graanbedryf is besig om ‘n graanboer-ontwikkelingsvereniging te stig. Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van die Meulenaarskamer sê dié vereniging se stigtingsvergadering sal eerskomende Maandag by die Forever Resorts Centurion Hotel gehou word.
Die hoofdoel van dié seksie 21-maatskappy sal die totstandkoming en ontwikkeling van opkomende graanboere wees, sê De Villiers. ‘n seksie 21-maatskappy is ‘n nie-winsgewende organisasie.
‘n Soortgelyke vorige poging om die Mielietrust en insetverskaffers se opkomende boer-projekte met mekaar te verenig was onsuksesvol weens lang burokratiese prosedures,” sê De Villiers. Met dit in gedagte het privaatsektor-leiers in die graanwaardeketting besluit om ‘n seksie 21-vereniging te stig om opkomende boere te help.
Tans probeer verskeie maatskappye en instansies elkeen om sy eie transformasieprojek te bevorder, sê De Villiers. In die breë gesien maak dié tipe optrede dit moeilik om ‘n ware beeld van die groter prentjie te kry. “Die individuele pogings het dit verder ook vir die bedryf moeilik gemaak om vinnig vorentoe te beweeg.”
Die Mielietrust en landboubesighede het in 2007 ‘n proeflopie gehad om swart boere met toelae vir grondkorreksie, oesversekering en mentorskap by te staan. Dié projek is oor ‘n drie-jaar tydperk van krag. Vanjaar word 585 boere, wat 8 630 ha beplant, deur die projek ondersteun.
Die program was só suksesvol dat die Wintergraan-trust in die volgende seisoen ‘n soortgelyke program vir 18 koringboere van stapel sal stuur, sê De Villiers. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se direkteur-generaal het reeds sowat R3,5 miljoen vir dié projekte bewillig, sê De Villiers.
Nou wil die privaatsektor graag dié projekte, asook individuele pogings, saam groepeer onder die vaandel van die nuwe graanboer-ontwikkelingsvereniging.
Die stigterslede van dié vereniging sluit die volgende groepe in:
• Die Landboubesigheidskamer
• Graan SA
• L&L Landboudienste
• Omnia
• Pannar saad
• Syngenta Suid-Afrika
• Tongaat-Hulett
• Steyn Lureman PR
• Die Mielietrust
• Die Meulenaarskamer
• Die Suid-Afrikaanse Kamer van Bankwese
• Die Sorghum-trust
• Die Wintergraan-trust
Klik op die skakel vir ‘n meer volledige memorandum. Dit is in PDF-formaat.
31 Julie 2009