
Die pryse van ongeraffineerde suikerpryse is die hoogste in 28 jaar en ’n ernstige tekort aan dié kommoditeit word volgende jaar verwag. Die Internasionale Suikerorganisasie meen die suikerprys kan vanjaar met 76 % styg omdat die vraag na suiker teen September aanstaande jaar met sowat 5 miljoen ton hoër as wêreldwye produksie kan wees.
Die twee grootste redes vir die huidige stygende prys is Brasilië se toenemende gebruik van suikerriet vir die vervaardiging van etanol en Indië se swak oes vanjaar. “Die stygende prys is goed vir suikeruitvoer en sal ons inkomste op die internasionale mark opstoot,” sê mnr. Trix Trikam, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Suikervereniging.
Mnr. David Wayne van die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekers sê die huidige hoë prys is voordelig, maar hy bevraagteken ook die volhoubaarheid daarvan. “Die wêreldprys is baie onbestendig,” sê hy.
In Swaziland kan die uitwerking van die hoë suikerprys duidelik gesien word. Kleinboere skakel van die verbouing van voedselgewasse na suikerriet oor om uit die huidige omstandighede voordeel te trek. “Dit is eenvoudig om te sê die verbouing van uitvoerprodukte beroof mense van hul kos hier by die huis. Dit is inderdaad verkeerd,” sê mnr. Amos Ndwandwe, ’n landboubeampte in Swaziland.
Die tekort en hoë pryse sal na verwagting ’n oorskot tot gevolg hê, sê mnr. Martin Todd, besturende direkteur van LMC International, ’n landboubeleggingsmaatskappy in Oxford, Engeland.
Bron:
19 Augustus 2009