Terwyl die Regering in Suid-Afrika voete sleep om oor 'n biobrandstofbeleid te besluit, gaan die suikerreus Tsb Sugar (voorheen Transvaal Suiker Beperk) in die buiteland belê om bio-etanol uit suiker te vervaardig.
'n Aankondiging oor die eerste groot belegging in etanol in die buiteland kan binne die volgende 12 maande verwag word, sê mnr. Hennie Snyman, besturende direkteur. Vanweë die kwaai internasionale mededinging in dié relatief nuwe bedryf, wou hy nie besonderhede oor sy maatskappy se planne bekend maak nie, maar dit sal waarskynlik beleggings in verskillende lande behels.
"Ons fokus tans op die res van die wêreld, terwyl ons wag dat die Regering 'n besluit neem. Ons stel belang om bio-etanol in Suid-Afrika te vervaardig, maar dit hang van die beleid af. As die beleid wys dat ons uit etanol geld kan maak, sal ons dit doen," het hy gesê.
"Die vervaardiging van bio-etanol gaan in die eerste plek daaroor om suikerriet teen die laagste moontlik koste te produseer. Hierin het ons internasionaal baie ervaring." Tsb Sugar is bekend daarvoor dat hy suikerriet teen van die laagste koste ter wêreld produseer.
In 2004 het Tsb die internasionale bestuursmaatskappy Booker Tate oorgeneem. Dié maatskappy bestuur suikermeulens en maatskappye in ses ander lande, soos Uganda, Indonesië, Saoedi-Arabië en Papoea Nieu-Guinee bestuur. Booker Tate is vir sowat 20 % van Tsb se jaarlikse omset van R2,3 miljard verantwoordelik.
Tsb het sowat twee maande gelede nóg 'n maatskappy, Resource Energy, gestig. Dié maatskappy spits hom toe op navorsing en ondersoeke na geleenthede in hernubare energie reg oor die wêreld.
Op 'n vraag of mnr. Tito Mboweni, president van die Resewebank, se voorkeur van suikerriet as grondstof vir hom bemoedigend is, het Snyman gesê politici maak baie uitsprake. "Soms is dit bemoedigend en soms nie. Die Regering moet die beleid maak en tot dan moet ons maar wag."
Hy sê hy het geen standpunt oor ander landbouprodukte as grondstof nie. "Ek ken suiker en ek glo daarin. Die produk se omskakeling in energie is van die beste wat mens kan kry."
Deur Tsb Sugar se aandeel in die Royal Swaziland Sugar Corporation, is hy inderwaarheid reeds betrokke by die vervaardiging van etanol. Sowat 32 liter drinkbare etanol word jaarliks daar uit molasse vervaardig en ondersoeke is aan die gang oor die vervaardiging van etanol ook as brandstof.
Snyman sê Tsb is 'n voorstander daarvan om suiker sowel as etanol saam te vervaardig. Met die A-proses, waarin die meeste suiker uit die riet ontrek word, kan suiker vervaardig word en met die volgende ontrekkingsprosesse bio-etanol.
Landbouweekblad, 24 Augustus 2007