
Boere in die Europese Unie (EU) het ’n swak jaar agter die rug en landbou-inkomste in dié gebied het met 12,2% gedaal, luidens ’n berig op Forbes.com. Dit is die grootste daling sedert 2001.
Volgens Eurostat, die EU se statistiekagentskap, is die grootste rede hiervoor die wêreldwye ekonomiese resessie wat laer produsentepryse vir boere tot gevolg gehad het. Die inkomste het na beraming in 22 van die EU se 27 lidlande afgeneem. In Hongarye is dié inkomste 35,6% laer as verlede jaar.
In Frankryk het inkomste met 19,8% gedaal, terwyl Duitsland ’n verlies van 21% ondervind. In Brittanje het inkomste egter met 14,3% gestyg. Die Europese landbou-organisasie Copa-Cogeca sê die wisselvalligheid van markte is ’n groot probleem vir EU-boere en meen die saak moet dadelik aandag kry.
Klimaatsverandering knou ook
“Die toestande is net nie aanvaarbaar nie. Boere in alle sektore regdeur die EU het vanjaar ’n krisis ondervind. Hulle word versmoor deur uiters lae landboupryse en hoë produksiekoste. Hul inkomste is laer as 50% van die gemiddelde verdienste in die EU vanjaar. Boonop staar klimaatsverandering hulle nou in die gesig,” sê mnr. Padraig Walshe, voorsitter.
Volgens die organisasie se sekretaris-generaal, mnr. Pekka Pesonen, moet geld beskikbaar gestel word om landboubeleid in die toekoms te verbeter.
Bron:
21 Desember 2009