Suid-Afrika het te min steenvrugkultivars om werklik mededingend op die wêreldmark te wees, sê mnr. Michael Oosthuizen, 'n vrugtekonsultant en voorsitter van die Steenvrug-Tegniese-forum (STF).
Hy het op 'n steenvrugseminaar in Stellenbosch gepraat wat deur die Kaaplandse Pomologiese-vereniging en die STF aangebied is. Volgens hom moet die evaluering van nuwe steenvrugkultivars vinniger geskied. "Daar is talle geleenthede vir steenvrugte op wêreldmarkte, hoewel daar waarskynlik te veel pruime beskikbaar is. Al wat pruimkultivars onderskei, is hul eet-eienskappe en smaak. Dit is net die heel beste pruime wat goed op wêreldmarkte vaar."
Oosthuizen meen Suid-Afrika het te min steenvrugkultivars wat op wêreldmarkte meeding. Só is daar maar een perske (Transvalia), twee appelkooskultivars, twee nektarienkultivars en een intersoortvrug wat werklik op die internasionale markte meeding.
Daar is geen plaaslik geteelde bloedpruime, plat perske- en nektarienkultivars nie, asook geen rooi-, wit- of swartskil appelkose nie. Die aspek het beslis aandag nodig, het Oosthuizen gesê.
Daar is egter 'n goeie reeks plaaslike pruimkultivars op wêreldmarkte beskikbaar, maar hul goeie eet-eienskappe en kleur moet beter onder verbruikers se aandag gebring word. Produsente kan ook heelwat lae-risiko pruimkultivars probeer, onder meer Ruby Red, Golden Kiss, Suplum 11, Sun Supreme, Larry-Ann en PR00-29 — wat dalk die deurbraak van die dekade kan wees, het hy gesê.
Flavor King, 'n plaaslike intersoortvrug, lok egter oral uitstekende kommentaar en daar is 'n goeie vraag daarna. Flavor Fall is 'n intersoortvrug wat uitstekend in Australië vaar, maar nog nie hier vrygestel is nie.
Hy sê produsente sal bereid moet wees om met steenvrugkultivars te eksperimenteer en om kultivars wat nie goed doen nie, met ander te vervang. Hulle moet ook hul reekse uit die verskillende telers se reekse kies, want geen enkele steenvrugteler het 'n volledige reeks wat in die kol met ál sy kultivars is nie.
22 September 2006