
Die TLU SA bied in aanloop tot sy jaarkongres, wat op 9 en 10 September by die WNNR-konferensiesentrum in Pretoria plaasvind, twee werkerskonferensies aan. Die eerste konferensie oor eiendomsreg het reeds plaasgevind en die tweede, op 2 September, waterkwessies sal dek.
Dr. Jan du Plessis, strategiese bestuursinligtingsontleder, sal op die eerste dag van dié landbou-organisasie se jaarkongres die rol van die kommersiële boer in plaaslike regering bespreek. Dr. Paul Oberholster, navorsingsgroepleier vir waterekosisteme en menslike gesondheid by die WNNR se afdeling natuurlike hulpbronne en die omgewing, sal die beskerming van waterbronne en deaadwerklike aksie rakende waterbesoedeling bespreek.
Oplossings rakende landelike veiligheid sal deur genl. Johan van der Merwe, voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, bespreek word. Op die tweede dag sal adv. Niel du Preez die status van eiendomsreg in Afrika en Suid-Afrika takel. Prof. André Jooste, senior bestuurder vir mark- en ekonomiese navorsing by die Nasionale Landboubemarkingsraad, gaan oor die bevordering van die vryemarkbeginsel praat.
Me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, asook dr. Pieter Mulder, haar adjunkminister is na die kongres genooi.
Besoek www.tlu.co.za vir meer inligting.
31 Augustus 2009