
Ek moes Moordenaarsk’roo toe om ’n laaste besoek aan Lammerfontein te bring en vir oulaas herinneringe te gaan versamel.
“Ek het die plaas verkoop. As jy nog een maal hier wil jag, beter jy gou kom kuier,” het Piet gesê. Ek is dus Moordenaarsk’roo toe om Lammerfontein se ooptes te gaan groet.
Ek het langs die droë rivierloop onder die rooi rant gekampeer, op die plek wat ek en Piet jare gelede gekies het. Op die eerste dag het ek skuins ná vyfuur die middag vuur gemaak en toe gesit en kyk hoe die dag luiweg oor die rante die skemerte in drentel. Later het ek vleis gebraai en toe geluister hoe die nagkiewiete en jakkalse gesels.
Dit was ’n soel April-aand en ek moes eenvoudig die nag buite deurbring. Dus het ek my beddegoed buite oopgesprei. Daar onder die donker koepel kon ek rustig die wye nag se stilte en die Melkweg se sterreprag waardeer — die Hemelstraat, het Ma Lenie dit altyd genoem; die plek waar die engele dans.
Ek is in die grou skemer by die ou, groen hek op die bultjie deur, daar waar die enkele gwarrieboom, soos so baie jare al, steeds gedweë waghou. Een jaar het ek reg van onder dié boom ’n groot springbokram op 150 m geskiet. Nogal met die .375 H&H.
Geduld
Toe die son sy kop oor die rante lig, het ek ’n springbok ver teen ’n rant witpens sien staan en hom toe met ’n wye ompad bekruip. Twee uur later was ek in posisie, maar hy was steeds te ver en die wêreld te oop om nader te gaan.
Ek het by ’n rotsriffie neergesak en gewag. In dié wye land moet geduld jou leuse wees, anders gaan jy leëhand huis toe. Terwyl ek daar sit, het ek vele van my vorige kuiers op Lammerfontein onthou. Die Meintjiesplaatsrivier het skuins agter my, diep in ’n skeur, gelê. En dis van een van die toringkranse bo sy bedding waar ek een jaar amper afgetuimel het.
Anderkant die rivier lê Boesmanskop, ’n hoë spitskop met steil hellings waarteen min mense dit waag. Daar het ek een jaar op 24 Desember my tentjie op ’n gelykte teen die skuinste staangemaak. Op Kersoggend het ek toe, stoksielalleen, met ’n beker koffie in die hand die Moordenaarsk’roo se stil genade ingedrink.
Ek het vele jagtogte onthou. My eerste vaalribbok. En dat jy geduld moet hê. Ook dat die Moordenaarsk’roo se oënskynlik lewelose voorkoms jou erg kan mislei. Dié dorre klipland is ’n paradys. Jy moet net leer om fyner te kyk as op ander plekke om sy skatte raak te sien.
Die springbok het later in my rigting begin wei, en toe merk ek ’n vaalribbok op, ook op pad na my kant toe. Hulle het my nooit gesien nie en ek kon ongemerk aanlê. Toe die eggo’s van die tweede knal wegsterf, het ek opgestaan en aangestap na waar die twee ramme stil bly lê het. My jagtog op Lammerfontein was volbring.
Weemoed en hartseer
Nadat die nag sy swart karos om die Karoo gevou het, het ek met ’n swaar hart langs my vuur gesit. Dit was tyd om totsiens te sê. Sou ek ooit weer my tent op Lammerfontein kon staanmaak?
’n Jakkals het skielik droefgeestig in die rivierloop geroep. Dit het my só swaarmoedig gestem dat ek besluit het om dadelik op te pak. Toe ek vir oulaas deur die groen hek ry waar die gwarrie waghou, het ek hartseer en alleen gevoel.
Om te groet, laat jou soms voel of ’n stuk van jou bietjiesbietjies doodgaan – al wat jy kan saamneem, is herinneringe. Vir ’n ruk lank is dit genoeg, want jou geheue is nog vars, maar dan begin die onthou vervaag tot dit later slegs vergeelde bladsye is waardeur jy met al hoe groter tussenposes blaai.
Afskeid is hartseer, ja… donker. Maar uit elke donker nag word ’n nuwe dag gebore. Soms neem dit tyd, maar later besef jy dat elke afskeid die eerste tree na ’n nuwe bestemming is, ’n ongekaarte pad wat wag…
- Koos Barnard is redakteur van SA Jagter.