
Navorsers na biobrandstof aan die Universiteit Stellenbosch (US) gaan in die toekoms met van die wêreld se voorste kundiges in dié gebied saamwerk om oplossings vir knelpunte oor volhoubare bio-energieproduksie te vind, sê prof. Emile van Zyl, biobrandstofkundige van die universiteit.
Hy sê ’n internasionale projek oor die uitvoerbaarheid en inwerkingstelling van bio-energie, oftewel Global Sustainable Bio-energy (GSB), is van stapel gestuur oor toenemende onsekerheid of die wêreld wél op bio-energie (biobrandstof, -hitte en -elektrisiteit) in die toekoms kan staatmaak.
“Ons wil vasstel of grootskaalse bioenergieproduksie moontlik en terselfdertyd voordelig is vir die mensdom én die omgewing,” het hy gesê. Van Zyl is die SA Instituut vir Energienavorsing (Saneri) se senior verteenwoordiger in energienavorsing oor biobrandstowwe en ander skoon alternatiewe brandstowwe.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 9 Oktober 2009.
5 Oktober 2009