
Dié landbou-uitbreiding van die Val de Vie-landgoed in die omgewing van die Paarl en Franschhoek heet Gentleman’s Estate. Die plase beslaan tussen 1,2 ha en 3,53 ha en kleinboere kan 'n paar diere aanhou en sekere gewasse plant, solank alle boerderybedrywighede aan die reëls voldoen.
In ruil bied die landgoed onder meer streng sekuriteit. Dit alles kom natuurlik teen 'n prys. Die plase kos R7,5 miljoen tot R9,95 miljoen, met 'n landskapsplan ingesluit, maar dan is daar nog geen geboue op die grond nie. Huise moet in Frans-Provensaalse of Kaapse styl gebou word.
Elke plaas kry 'n watertoekenning uit die Bergrivier en Val de Vie se grondwaterregte. “Besproeiingswater, waarvoor in die grootmaatwaterregte voorsiening gemaak is, is ingesluit by die heffing van R2 995 per maand,” sê me. Surina du Toit, bestuurder van die eiendomsagentskap Pam Golding se Paarl-, Franschhoek- en Wellingtongebied, wat die plase bemark.
Kopers mag kommersieel boer, maar moet by die reëls hou, soos dat geen varke toegelaat word nie en hoenders slegs vir eie gebruik aangehou mag word. Die stuks lewende hawe per plaas word tot 10 beperk en die diere mag nie bure pla nie. Wingerde met die doel om self wyn te maak of die druiwe aan 'n kelder te verkoop, is toelaatbaar en so ook groente in glaskweekhuise, nie tonnels nie.
Die ontwikkelaars hoop dat 'n groenteboer die geleentheid sal aangryp om organiese groente vir die landgoed se restaurant te voorsien. Ander toelaatbare gewasse sluit in neute, sitrus of olywe. 'n Kleinboer moet hier sy plaaswerf netjies hou - stukkende toerusting of skroot moet binne 48 uur verwyder word.
Me. Ronel Pienaar, een van die agente wat die plase verkoop, sê teen druktyd was ses verkoop, onder meer aan 'n koper wat beoog om resiesperde aan te hou en daarom buiten 'n huis ook stalle, 'n skuur en verblyf vir personeel bou.