
Die uniekheid van die Suid-Afrikaanse landbou-waardeketting is in diepte bespreek tydens 'n Nasie in Gesprek-sessie op die Nampo-Oesdag, met die treffende tema “Van Plaas tot Tafel, Volhoubaar” wat deur Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, aangebied is.
Die paneel was 'n paar kundiges in die bedryf: mnre. Francois Strydom, hoof uitvoerende beampte van Senwes, Connie Jansen van Vuuren, voorsitter van Beefmaster Suid-Afrika, Kevin Lovell, uitvoerende hoof van die SA Pluimvee Vereniging en Kobus Pienaar, bestuurder by Woolworths Foods se bekende Good Business Journey, om 'n geheelbeeld te verskaf.
Strydom het aangedui dat die prys van stysel omtrent verdubbel het, maar hier is daar egter ‘n baie belangrike aspek om te oorweeg. “ 'n Mens moet die relatiwiteit daarvan oorweeg. Elke kossoort se energie en koste moet vergelyk word. Ten spyte van alles, is mieliemeel steeds die beste.”
Van Vuuren het geantwoord dat hulle baie bevoorreg is: “Daar is 'n baie groot vraag na rooivleis, en baie mense koop nou net méér maalvleis en agterkwarte.” Aan die negatiewe kant is prys; “die droogte gaan dalk eers in September die rooivleiskoper raak.”
Eiers bly die goedkoopste
Lovell het die pluimvee-oogpunt uitgelig: “Die goedkoopste diereproduk is eiers. Die beste kwaliteit produk is ook eiers. Daarna eers volg varkvleis en beesvleis.”
Pienaar het die aspek van veiligheid van produkte aangeraak: “Ons kliënte dring daarop aan. Hulle wil weet: Is die kos veilig om te gebruik en hoe word dit geproduseer?” Van Vuuren het dié aspek verder geneem tot by naspeurbaarheid. “Naspeurbaarheid is nog nie so ver gevorderd in Suid-Afrika nie. Maar daar is ‘n ernstige beweging in daardie rigting.”
Pienaar het bygevoeg dat mens soms net moet aanvaar dat die produk wat jy koop gesond is: “Ons sal sover as moontlik uit geneties gemodifiseerde produkte bly.”
Bevoorreg in SA
“Konseptueel moet ons kyk dat dit wat ons aan die verbruiker verskaf, wel veilig is,” het Lovell aangevoer.
Pienaar noem verder, “Ons is baie bevoorreg in Suid-Afrika. Ons het ‘n baie korter waardeketting. So is ons baie nader aan die boer.”
Om op te som is daar baie aspekte in die landbou-waardeketting wat van die plaas tot op ons tafel gebeur. Die Regering, politici, ekonomie sowel as aspekte soos beskikbaarheid, bekostigbaarheid en kultuur beïnvloed die hele proses.