Die suksesvolle varkboere van die toekoms gaan diegene wees wat hulself reg posisioneer, strategiese vennootskappe vorm en by 'n progressiewe voorsieningsketting inskakel, sê dr. Danie Visser, voorheen programbestuurder van vark- en pluimveeprestasietoetsing in Suid-Afrika. Hy is die nuwe besturende direkteur van die maatskappy Topigs SA.
Volgens hom sal plaaslike voorsieningskettings hul mededingendheid aan dié van hul internasionale eweknieë moet meet.
"Die Brasiliaanse varkbedryf behoort as 'n barometer vir doeltreffendheid en as verwysing vir substantiewe internasionale markpenetrasie te dien," het hy gesê.
Aan die telingkant is strategiese internasionale vennootskappe noodsaaklik. Die suboptimal uitsette van erkende landboukundige navorsingsinstansies en 'n tekort aan ervare wetenskaplike kundigheid en ondersteuning dra veral hiertoe by.
Drie fundamentele boustene gaan onderliggend aan varkteling in die toekoms wees, naamlik biosekuriteit, biotegnologie en verbruikerswese. Die hoofpad vir varkteling in Suid-Afrika behoort belangrike roete-aanwysers te hê.
Dit sluit in internasionaal geakkrediteerde KI-stasies en vennootskappe, noukeurige teelwaardeberekenings oor kuddes heen, wêreldklas-biosekuriteitsmaatreëls wat deurlopend geld en volgehoue strewe na gehalte.
Boonop moet sakeplanne deurentyd vernuwe, die produsent en verbruiker se sienings bepaal, die regte vennote in die semen- en voorsieningskettings verkry, doeltreffend bemark en gereeld marknavorsing doen.
'n Professionele diens en naverkopediens is net so belangrik.
Landbouweekblad, 19 Oktober 2007