
’n Nuwe wapen teen toenemende weerstand teen antibiotika, wat binne die volgende drie jaar gereed kan wees vir mediese proewe by mense, is ’n soort molekuul wat ’n weerstandige bakterium se vermoë om ’n antibiotikum te vernietig, neutraliseer.
Navorsers aan die Oregon-staatsuniversiteit in Amerika het dié molekuul ontdek. Hul bevindings verskyn in die vaktydskrif Journal of Antimicrobial Chemotherapy. Weerstandigheid teen antibiotika neem internasionaal krisisafmetings aan, ook in die landbou. Dit lewer mens en dier toenemend uit aan “superkieme”, bakterieë waarteen geen soort antibiotika meer werk nie. Daarby stel dit ekostelsels wêreldwyd in gevaar.
Die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE), waarvan Suid-Afrika lid is, het onlangs ’n nuwe internasionale strategie teen antimikrobiese weerstand en vir die verantwoordelike gebruik van antibiotika aanvaar. Daar word beraam dat weerstandige bakterieë reeds vir tot 10 miljoen sterftes per jaar verantwoordelik is, berig die tegnologiewebtuiste New Atlas.
Prof. Bruce Geller, lid van die navorsingspan wat die nuwe molekuul ontdek het, sê talle algemene antibiotika is reeds nutteloos omdat byna alle siekteveroorsakende bakterieë deesdae teen hulle weerstand bied. Wetenskaplikes moet nuwe medisyne ontwikkel om een stappie voor die bakterieë te bly, “maar hoe verder ons soek, hoe meer kry ons niks nuuts nie”.
Sodra hulle ’n bestaande antibiotikum chemies probeer verander, muteer die bakterieë opnuut om ook teen die aangepaste middel weerstand te kan bied. Bruce en sy kollegas was deel van ’n internasionale netwerk van wetenskaplikes wat bewys het dat die betrokke molekuul die produksie van ’n ensiem voorkom wat bakterieë teen ’n wye reeks penisillien weerstandig maak.
Die molekuul staan kortweg as PPMO bekend en dit beveg ’n ensiem genaamd NDM-1. NDM-1 stel bakterieë in staat om weerstand teen die meeste, indien nie alle nie, antibiotika op te bou. “Ons konsentreer op ’n weerstandsmeganisme wat ’n hele rits patogene organismes gemeen het,” verduidelik Bruce.
“Dit is dieselfde geen in verskillende tipes bakterieë, en jy het dus net een PPMO nodig wat doeltreffend teen hulle almal is.” Hul studie het gewys hoe die nuwe PPMO in laboratoriumbakkies die vermoë van ’n antibiotikum herstel om opnuut drie verskillende soorte bakterieë te kan beveg.
Bruce sê voorts dat NDM-1 ook karbapeneme, die mees gevorderde penisillien-tipe antibiotika, vernietig. Dokters moes dus noodgedwonge begin terugval op ’n ander tipe antibiotikum, kolistien, wat al dekades gelede in onbruik verval het omdat dit giftig vir ’n mens se niere is. “Dit is letterlik die laaste antibiotikum wat gebruik kan word teen kieme wat NDM-1 kan produseer. Ons het dus nou bakterieë wat algehele weerstand teen alle bekende antibiotika bied.”
Maar met die hulp van ’n PPMO-molekuul sal reeds goedgekeurde antibiotika wat weens kiemweerstand nutteloos geraak het, hopelik nou verbeter kan word om van nuuts af doeltreffend te werk.
Bronne: newatlas.com; oregonstate.edu
• Dié artikel is geborg deur GWK. Besoek GWK se webblad by http://www.gwk.co.za/