
Die nadele van ‘n vastepryskontrak is kortliks in ‘n vorige artikel uitgewys. Wees bewus van die verskil tussen vastepryskontrakte (termynkontrakte op Safex of vastepryskontrakte met ‘n ander persoon of instansie) en prysversekering (‘n “put” op Safex).
‘n Vastepryskontrak moet gelewer of uitgekoop word, terwyl prysversekering uitbetaal as die prys onder ‘n bepaalde vlak daal, ongeag of daar enige graan is. ‘n Verdere nadeel van ‘n vastepryskontrak vir ‘n produsent is dat wanneer pryse na kontraksluiting sou styg, die prys van die kontrak nie saam styg nie.
Dit laat ‘n mens wonder hoekom ‘n boer dan nie net deur middel van prysversekering moet verskans as dit soveel beter as vastepryskontrakte is nie. Die belangrikste nadeel van prysversekering is dat dit ‘n duur manier van verskansing is in vergelyking met ‘n vastepryskontrak.
In die geval van vastepryskontrakte is die koste gewoonlik beperk tot die kommissie, normaalweg in rand per ton, van die party deur wie die kontrak gedoen word. Rentekoste kan ook ter sprake kom as termynkontrakte direk op Safex verkoop word. In die geval van prysversekering is hierdie kostes dieselfde, plus die premie van die prysversekering. Hierdie premie vir prysversekering op ‘n R5 000 per ton vlak vir Julie 2016 witmielies is tans R400 per ton.
Die beste manier is om ‘n kombinasie van bogenoemde meganismes te gebruik. Aan die begin van die seisoen is die risiko van nie-lewering hoog en pryse kan enige kant toe gaan. Dit is die moeite werd om ‘n minimumprys op ‘n R400 laer vlak te hê as ‘n vastepryskontrak. Wanneer ‘n produsent se oes redelik seker is, het pryse ook gewoonlik gestabiliseer. Die addisionele koste van prysversekering kan dan ‘n onnodige uitgawe wees en vastepryskontrakte kan eerder gedoen word.
Deelnemers aan die BVG verskansingskompetisie behoort altyd die koste van ‘n spesifieke strategie teenoor die hoeveelheid risiko wat daarmee gepaard gaan, op te weeg.
* Johann Strauss is 'n ontleder by BVG Commodities.