Die belangrikste uitdagings vir die veevoerbedryf lê tans in die bestuur van onbestendige grondstofpryse en die implementering van veiligheidstelsels om kliënte, en uiteindelik die eindverbruiker, die beste te dien.
Die veevoerbedryf het die afgelope twee jaar die grootste onbestendigheid in kostestrukture beleef sedert deregulering in 1997. Grondstofpryse het nie net weens vraag en aanbod gewissel nie, maar ook weens die groter onbestendigheid in die wisselkoers.
Die grootste koste-element in die lewendehawebedrywe word steeds deur kommoditeitspryse bepaal en dit kan so hoog as 80 % van die finale produkprys wees. Van die kommoditeitspryse kan op die Johannesburgse Sekuriteitebeurs verskans word, terwyl die res afhanklik is van internasionale pryse. Ingevoerde produkte is uiteraard ook baie onderhewig aan wisselkoersveranderings.
Wat die verskansing op die Suid-Afrikaanse mark aanbetref, het elke maatskappy 'n eie strategie wat deur internasionale sowel as plaaslike sake beïnvloed word. Só kan 'n konserwatiewe oesskatting pryse hoër laat neig, en dit kan weer invoerstrategieë beïnvloed.
Veevoermaatskappye se strategie ten opsigte van verskansing kan sekerlik vergelyk word met dié van 'n boer se bemarkingsplan. Soos wat die boer hoop om ál sy mielies net op die hoogtepunt van die mark te verkoop, sou die veevoervervaardiger, in belang van sy kliënte, weer ál sy grondstowwe op die laagste vlakke wou koop. Dit is egter alombekend dat dit nooit só uitwerk nie.
Die gemiddelde groei in die veevoerbedryf oor die laaste ses jaar was net meer as 1 % per jaar. Een van die aspekte wat besig is om die voorkoms van die bedryf permanent te verander, is die vereistes ten opsigte van voedselveiligheid en die rol wat die veevoerprodusent daarin speel. Betroubare verskaffers van veilige veevoer is uiters noodsaaklik vir die pluimvee-, suiwel- en die rooivleisbedryf wat op hul beurt veilige voedsel aan die eindverbruikers moet lewer.
Eindverbruikers het sekere vereistes en die veevoervervaardigers en lewendehaweprodusente moet daaraan voldoen. Die veevoerbedryf is deurlopend besig om verskillende stelsels, soos die Goeie Vervaardigingspraktyke, ISO en HACCP teen groot koste in werking te stel sodat aan die veiligheidsvereistes voldoen kan word.
Die dae toe veevoer net nog 'n kommoditeit was, is lank reeds verby. Die lewende hawe waarmee vandag gewerk word, is geweldig verbeter deur onder meer teling. 'n Kenner hiervan, mnr. Rick Kleyn het in 'n artikel in Afma Matrix geskryf die geraamde braaikuikenproduksie het oor die afgelope 10 jaar met 68 % gegroei. Daarteenoor het die veevoerproduksie vir braaikuikens met net 36 % toegeneem. In dieselfde tyd het eierproduksie met 28 % toegeneem en die voerproduksie vir lêhoenders met net 10 %. Dieselfde neiging sal by vark- en suiwelproduksie gevind word.
Wat is die rede hiervoor? Dit kan verseker aan onder meer verbeterde vee, bestuur en veevoer toegeskryf word. Die vereistes van die veevoerbedryf se kliënte wat met hierdie diere boer, het toegeneem en om in die mark se behoeftes te voldoen, moet die veevoerbedryf verseker dat hy altyd aan die voorpunt van navorsing en tegnologiese ontwikkeling bly en dit toepas in sy voere.
- Mnr. Hansie Bekker is die hoofbestuurder van die Vereniging van Veevoervervaardigers (Afma).
12 Maart 2004