
Danksy hulp van die staat en die private sektor kon bestaansboere só van hul botallige diere verkoop en moontlike vrektes weens ’n tekort aan weiding voorkom.
Die vierde jaarlikse veiling van meentgrond-beeste by Smithfield is op 2 Junie deur die plaaslike grondbewaringskomitee met die samewerking met OVK, die departement van landbou en kommersiële boere gehou. Mnr. Jan Marais van OVK was die veilingsagent.
Volgens mnr. Gerrie van der Walt, landbouvoorligter op Smithfield, is die veiling gehou op die meentgrond om boere tegemoet te kom sodat hulle nie die beeste elders heen hoef te vervoer of aanjaag nie. Die tydelike veilingskrale is opgerig met toerusting wat beskikbaar gestel is deur OVK, plaaslike kommersiële boere en die departement van landbou. “Al die diere is die vorige dag geweeg om akkurate inligting aan kopers en verkopers te verskaf. Die veilingsagent reël dan kopers.” Vanjaar was daar vyf kopers van onder meer Bloemfontein, Reddersburg en Aliwal-Noord.
Die veiling se reëlings verskil effens van die norm om sake vir die bestaansboere te vergemaklik. Só het die koper die kommissie betaal en die prys waarop die bod beklink is, is die prys wat die boer ontvang het. Die verkooppryse was gevolglik effens laer as wat boere sou kry op ander veilings, maar die boer hoef dan nie nog 7,5% aan kommissie en vervoerkoste af te staan nie. Die veilingsagent (OVK) het ook 1% van sy kommissie aan die grondbewaringskomitee teruggegee. “Die geld word onder meer gebruik vir die instandhouding van die meentgrond se drade en waterinfrastrutuur,” het Van der Walt verduidelik.
Vanjaar is 63 diere aangebied, waarvan 36 kalwers was. “Die veilingsagent het aangetoon dat die meeste diere in goeie kondisie was en dat veral die kalwers wat te koop aangebied was, van goeie gehalte was.”
Die totale omset op die veiling was R360 700. Altesaam 16 boere wat hul diere op die meentgrond laat wei, het diere op die veiling verkoop. Elke dier is afsonderlik opgeveil. Die topdrie verkopers het onderskeidelik verkope van R127 500, R54 200 en R28 450 gehad. Volgens Van der Walt wys sy navorsing dat die geld verkry tydens die veiling hoofsaaklik gebruik word vir skoolgeld en om voorsiening te maak vir moeilike tye. “Dit is dus ook ’n groot inspuiting vir die plaaslike ekonomie.”