Bewaring óók hoog op Vergelegen se lys Wyn en bewaring loop saam op Vergelegen Vergelegen, een van Suid-Afrika se oudste plase, is onlangs as Suid-Afrika se eerste Biodiversiteit-en-Wynkampioen aangewys.
Volgens mnr. Tony Hansen, projek-koördineerder van die Biodiversiteit- en Wyn-inisiatief (BWI), vereer die BWI se program wynlandgoedere en wynplase wat 'n voorbeeld stel in die bewaring van die hoogs bedreigde fynbos en renosterveld van die Wes-Kaap.
Hy sê Vergelegen het die afgelope tien jaar buitengewone stappe gedoen om indringerplante uit te roei sodat inheemse plante weer hul regmatige plek kan inneem. "Die landgoed het dit ook vermy om wingerd te plant in gebiede wat met fynbos bedek is."
Hansen sê hy hoop die BWI se program sal druiweboere en landgoedeienaars aanmoedig om boerderypraktyke te gebruik wat op die bewaring van die Wes-Kaap se unieke biodiversiteit gemik is.
Mnr. Don Tooth, Vergelegen se besturende direkteur, sê met die oog op die bewaring van die landgoed se natuurlike omgewing is die Vergelegen-omgewingstrust gestig. "Die doelwit is om minstens een derde van die landgoed van 3 000 hektaar tot sy eertydse glorie te herstel.
"Dit is belangrik om te noem dat die geld vir dié bewaringsprojek volledig uit Vergelen se wynverkope kom," het hy gesê. "Om 'n Biodiversiteit-en-Wynkampioen te word, hang af van die toewyding van die betrokke landgoed of plaas."
Vereistes om 'n biodiversiteit- en wynkampioen te word, is streng. Die plaas moet 'n sekere element van natuurlike biodiversiteit hê wat nog onaangeraak is. Die plaas en kelder moet ekstern geouditeer word deur die onafhanklike IPW-ouditeure en moet 'n IPW-konformasiesertifikaat ontvang.
'n Kampioen moet 'n bewaringsbestuursplan van aanvaarbare gehalte hê en, die belangrikste, reeds verskeie geskeduleerde aktiwiteite in die plan begin toepas het. Kampioene moet tasbare resultate van hul toewyding tot biodiversiteitbewaring kan toon en moet 'n goeie rekord van bewaring hê.
1 April 2005