Afgesien van die grootste getal inskrywings nóg (1 738), het die meeste wynmakers tot dusver (313) wyn ingeskryf. Dit word deur agt internasionale wynkenners — die grootste groep in die toekennings se 15-jarige bestaan — beoordeel.
Altesame 16 spesialis-groepe van sewe beoordelaars het onlangs by Nederburg in die Paarl byeengekom om die wyn in die verskillende kategorieë te takseer.
Die klas vir Shiraz het vanjaar die meeste inskrywings gelok (224), gevolg deur Cabernet sauvignon (194) en Sauvignon blanc (157).
Een van die internasionale wynkenners wat 'n bietjie "nywerheidspioenasie" kom doen, is mnr. Brian Walsh, produksiedirekteur van die Yalumba-wynmaatskappy in Australië. Walsh tree al die afgelope 25 jaar as wynbeoordelaar op en is tans by die administrasie van die Australiese Wynskou betrokke. Die res van die internasionale groep is mee. Angela Reddin en Lynne Sheriff van Brittanje, Janake Johanssen en Madelein Stenwerth van Swede, mnr. John Buechsenstein van Amerika, mnr. Tihong Poh van Singapoer en mnr. Thomas Luber van Duitsland.
Mnr. Dave Hughes, die bekende Suid-Afrikaanse wynskrywer en -kenner, tree as Veritas se konsultant op.
Die Veritas-toekennings word deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANW) aangebied en is Suid-Afrika se grootste kompetisie vir markklaar wyne. Die uitslae wat op 'n gala-geleentheid op 1 Oktober bekend gemaak word, word as een van die gesaghebbendste erkennings van plaaslike wyngehalte beskou.
30 September 2005