
Die Veritas-wyntoekennings is amper twee dekades oud en vanjaar se 150 beoordelaars het van 28 Augustus tot vandag (4 September) 1 728 wyne by die Nederburg-veilingskompleks geproe om die beste van die beste te kies.
Die paneel beoordelaars sluit wynmakers, -konsultante, -navorsers, akademici, -joernaliste en vier internasionale verteenwoordigers in. Hulle is mnre. Ian McKenzie van Australië en Thomas Lüber, hoofaankoper by WIV Wien International van Duitsland en mnr. Anders Barren, koper verantwoordelik vir Suid-Afrikaanse wyne by die Sweedse maatskappy Systembolaget, asook me. Lynne Sheriff, ondervoorsitter van Masters of Wine in Brittanje.
Mnr. Duimpie Bayly, voorsitter van die SA Nasionale Wynskouvereniging, sê 10 wyne word op ’n keer blind geproe deur ’n paneel van sewe kundiges. “Die wyne word deeglik bespreek, konsensus bereik en punte word dan toegeken op grond van ’n internasionale punteskaal. Dubbelgoud word toegeken wanneer ’n wyn 18 of meer uit 20 punte verdien en die goue Veritas-simbool pryk op wyne met 17 punte. Silwer gaan aan wyne met 16 punte en bronsmedaljes vir 15 punte,” sê hy.
Die wenners van die Veritas-toekennings word op 10 Oktober op ’n glansgeleenthied by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aangekondig. Bel Elsabé Ferreira by tel. 021 807 3104 vir meer inligting, stuur e-pos na ferreira@vinpro.co.za of besoek www.veritas.co.za.
Op die meegaande foto proe me. Lynne Sherrif, wynfoendie en ondervoorsitter van die gesaghebebbende Institute of Masters of Wine (MW), een van die inskrywings. Sy is ‘n lid van die buitelandse afvaardiging wat die week Veritas wyne by Nederburg beoordeel het. Die Suid-Afrikaans gebore Lynne was die eerste Suid-Afrikaner wat met die MW titel kon spog. Die foto is deur me. Araminta de Clermont geneem.
4 September 2009