
Die Buro vir Voedsel en Landboubeleid (BFAP) wys op interessante ontwikkelings ten opsigte van verbruikstendense in sy gesaghebbende 2016 Baseline Study van 2016.
Die goeie nuus is dat beduidende verbeterings in welvaart waarneembaar is soos wat verbruikers skuif tussen die sogenaamde LSM-groepe (Living Standard Measures). Die goeie nuus is die skerp toename in die aantal mense wat as middelklas, bo-middelklas en welvarend geklassifiseer is van onderskeidelik 23%, 65% en 32% onderskeidelik van 2005 tot 2015.
In 2009 het 56% van die totale bevolking tussen R1 en R4 999 per maand verdien, welke persentasie in 2015 tot 37% gedaal het.
Daarenteen het die deel van die bevolking wat R5000 en meer per maand verdien, van 44% in 2009 tot 63% in 2015 toegeneem, aldus BFAP. Hierdie verbetering van welvaart moet lei tot verhoogde vraag, maar belangriker tot ander verbruikspatrone.
Gemarginaliseerde mense
Die skerpste afname was ten opsigte van dié deel van die bevolking wat as gemarginaliseerd beskryf word. Die getalle is in 2013 geraam op 9,5% van die bevolking of ongeveer 3,7 miljoen mense en hulle het minder as 5% van die totale inkomste ontvang.
Die Nasionale Landboubemarkingsraad skets weer ’n droewige scenario vir die armste 30% van die bevolking in terme van die bekostigbaarheid van die mandjie kos wat gekoop word. In die Mei 2016-verslag word geraam dat die koste van die vyf gewildste aankope op ’n jaargrondslag met 19,1% toegeneem het tot R6,00 in April 2016.
Dié (armste) deel van die bevolking het na raming in April 2016 sowat 56,2% van besteebare inkomste op kos bestee, versus die 2,3% van die rykste 30% van die bevolking. Welvaartvlakke en die verskuiwing tussen klasse van inkomste, het ’n beduidende impak op verbruik.
* Dr Kobus Laubscher is 'n landbou-ekonoom.