Die volstruisbedryf loop weer met sy kop in die wolke ná die 13 maande lange verbod op die uitvoer van vleis weens die uitbreking van voëlgriep, verlede week opgehef is.
Me. Thoko Didiza, Minister van Landbou en Grondsake, sê 'n landwye opname het aan die lig gebring dat die land die gevreesde siekte suksesvol uitgeroei het. Volgens die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) se riglyne word die land nou vry van die siekte verklaar. Gevolglik word Oos- en Wes-Kaap se kwarantynstatus herroep en is daar geen verdere beperkings op die vrylike beweging van pluimveeprodukte nie, sê Didiza.
Daarby word die verbod op die uitvoer van volstruis, pluimvee en volstruis- en pluimveeprodukte onmiddellik gelig. Volgens haar gaan die Regering en bedryfsorganisasies maatreëls neerlê om te verhoed dat die siekte weer hier posvat. Sy sê toetse sal elke ses maande gedoen word om die land se voëlgriepvry-status te bevestig.
Mnr. Anton Kruger, bestuurder van die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer (SAVBK) op Oudtshoorn, sê die bedryf betree nou as 't ware 'n nuwe tydvak. "Daar gaan voortaan volgehoue rekords van die beweging van voëls gehou word. Die biosekuriteit op plase is ook opgeskerp. Ons besef die waarde van 'n goeie vennootskap tussen die Regering en die private sektor om probleme in die toekoms te probeer oplos."
Kruger sê ofskoon die verbod nou opgehef is, moet die lande wat voorheen van Suid-Afrika volstruisvleis ingevoer het nog besluit of hulle weer die vleis gaan aanvaar.
Mnr. Hennie Roets, besturende direkteur van Camexo op wie se plase voëlgriep die eerste keer aangemeld is, sê hy is verheug oor die besluit. "Dit is die eerste stap in die rigting van uitvoer en ons vertrou dat die Europese Unie gou sal besluit om weer ons vleis te aanvaar."
Mnr. Norman Bester, voorsitter van die Oos-Kaapse volstruisforum, sê die grootste skade wat boere in die provinsie gely het, was die uitdunning van broeivoëls. "Ons is nietemin besig om weer op die been te kom en die opheffing van die uitvoerverbod sal beslis nuwe lewe in die bedryf blaas."
Bester meen die binnelandse prys van volstruisvleis gaan ná die opheffing skerp styg aangesien produsente wat in die buiteland vleis bemark, heelwat meer daarvoor ontvang as op die plaaslike mark.
Volgens Kruger het die bedryf die afgelope jaar nagenoeg R600 miljoen weens voëlgriep verloor en is sowat 4 000 werksgeleenthede ingeboet. "Ons is baie dank aan die publiek verskuldig wat gehelp het om die binnelandse verbruik van volstruisvleis vyfvoudig te laat toeneem. Die bedryf sal voortgaan om hierdie mark van gehalte vleis te voorsien," het Kruger benadruk.
23 September 2005