
Suid-Afrika se beleid rakende landbouvoorligting sal radikaal moet verander om ’n beduidende wanbalans tussen die leerplan en die doelwitte van landboubeleid reg te stel, sê mnr. Steven Worth van landbouvoorligting en landelike hulpbronbestuur aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.
“Die huidige leerplan vir landbouvoorligting kan nie en sal nie voorligters oplei wat ’n diens ingevolge Suid-Afrika se landbou-agenda kan lewer nie,” het hy in ’n voorlegging by ’n simposium van die Nasionale Taakspan vir Landbounavorsing en –ontwikkeling by die Landbounavorsingsraad se hoofkantoor in Pretoria gesê.
Voorligtingstrategieë in die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye sal ondersoek en aangepas moet word om elemente van menslike ontwikkeling, boere se leergerigtheid, monitorerings- en evaluasieprogramme en prestasiebestuurstelsels in te sluit.
Opleiding van voorligters moet op stelsels en redenasievaardighede, holistiese denke en probleemoplossing konsentreer. Voorligters moet boere help om te leer en nie om bloot tegnologie oor te dra nie, sê Worth.
4 November 2009