
Die 2013/14-oonddroogtabak-oes word op 10,69 miljoen kg en die lugdroogtabak-oes op 2,6 miljoen kg beraam, sê mnr. Francois van der Merwe, die uitvoerende hoof en voorsitter van die Tabakinstituut van Suidelike Afrika (TISA).
Vir die 2014/2015-seisoen is die huidige oes-skatting 11,9 miljoen kg oonddroogtabak en 3,5 miljoen kg lugdroogtabak. Die klimaat, produksiekoste, prys en gebeure in die produksiestreke beïnvloed die oesgrootte.
Droogte en wydverspreide haelstorms vroeg in 2014, gevolg deur vloede in al die tabakproduksiegebiede, het die oesgrootte en algemene gehalte van die huidige oes nadelig beïnvloed.
Die produksiekoste van oonddroogtabak vir die afgelope seisoen was ongeveer R110 000 tot R120 000 per hektaar. Vir lugdroogtabak, is die gemiddelde produksiekoste per hektaar tans R90 000 tot R100 000. Geadministreerde kostes soos brandstof, water, elektrisiteit, die swak wisselkoers en veral arbeid jaag produksiekostes op terwyl tabakprysstygings nie tred hou met koste-inflasie nie. Tabakprodusente moet dus toenemend fokus op optimale opbrengs en produksie van gehalte-tabak met goeie rookeienskappe.
Die geweldige groei in tabakproduksie in Zimbabwe sal dringend bestuur moet word om te verseker dat die streek, asook Zimbabwe self, nie negatief beïnvloed word deur lae markpryse as gevolg van oorproduksie nie.
Vir die nuwe seisoen word oonddroog-tabakprodusente aangemoedig om 'n natuurlike, ongeforseerde en volryp oes te produseer. Donker, aromatiese tabak bly steeds in aanvraag. Tabakprodusente word aangemoedig om te let op die na-oes-hantering van tabak aangesien drogings- en bergingspraktyke 'n impak op uiteindelike gehalte kan hê, sê Van der Merwe.