
Sedert 16 Oktober vanjaar is regulasies aangaande suiwelinvoere in Namibië in plek. Die regulasies is ingestel nadat die bedryf vroeër vanjaar byna in duie gestort het toe die land se grootste melkkoper, Namibia Dairies, sy inname met 50% gesny het.
Die Suiwelprodusente-organisasie (SPO) sê dit het onder sy aandag gekom dat sommige kleinhandelaars moontlik die publiek mislei met boodskappe oor lae melkvoorrade. Luidens 'n verklaring is daar bewerings dat melkvoorrade laag is weens die instelling van die regulasies.
Mnr. Japie Engelbrecht, voorsitter van die SPO, sê volgens inligting van die Vleisraad van Namibië is alle invoere vir die eerste maand wat die regulasies ingestel is, wel goedgekeur en toegestaan. “Sou lae vlakke van voorraad in enige kleinhandelwinkels in Namibië voorkom, kan dit dus nie aan beperkings op invoere toegeskryf word nie, maar eerder aan die feit dat invoerders moontlik nie aan die voorskrifte van permitaansoeke voldoen het nie,” aldus Engelbrecht.
“Roofdieragtige pryse”
Volgens Engelbrecht kan die prysbeleid van sommige plaaslike kleinhandelaars wat suiwelprodukte betref, as “roofdieragtig” beskryf word, en is dít een van die redes hoekom die suiwelbedryf in die land nou ’n krisis beleef.
Die bedryf hoop om binnekort veranderinge te sien, en te ervaar dat plaaslike kleinhandelaars die nuwe regulasies en beperkinge omarm. Engelbrecht sê die nakoming van die regulasies gaan makro-ekonomiese voordele vir die land en voordele vir die verbruiker bring.
Plaaslike produsente is volgens Engelbrecht daartoe verbind om produkte van hoë gehalte, wat aan die land se streng maatreëls aangaande geneties gemodifiseerde organismes en sintetiese hormone voldoen, te voorsien.
Die organisasie verwelkom ook die land se regering se prysmoniteringsprojek wat daargestel is om ’n gelyke speelveld vir die land se ekonomie en produsente daar te stel.