Sybokhaar SA het bekend gemaak dat me. Jackie Gant (41) aangestel is sy nuwe bemarkings- en bevorderingsbestuurder. Die aanstelling volg nadat mnr. Frans Loots vroeër vanjaar as hoofbestuurder afgetree het en die maatskappy sy personeelstruktuur verander het. Mnr. Deon Saayman is ná Loots se vertrek as die hoofbestuurder aangestel.
Gant bestuur haar eie skakelmaatskappy en was voorheen die bemakingsbestuurder by 'n selfoonmaatskappy. Sy sal verantwoordelik wees vir die binne- en buitelandse bevordering van bokhaar. Mnr. Reinhold du Randt, voorsitter van SSA, sê daar was ook 'n verandering in die direksie. Mnr. Francois Michau van Cradock is in die plek van mnr. Fanie van Heerden (wat vroeër vanjaar uitgetree het) verkies. Mnr. Clive van Hasselt van Prins Albert is as direkteur herkies.
Du Randt sê hoewel mode die afgelope drie jaar prys van bokhaar verbeter het, is die siklus vir eers verby. "Die huidige goeie prys vir grootbokhaar is te danke aan die skaarsheid van die vesel eerder as mode. Daar is nietemin 'n oplewing in die modevraag vir breigare wat die prys vir kleinbokkiehaar behoort aan te help. "
Hy is bekommerd oor die invloed van die droogte op produksie. Volgens hom is daar boere in veral die westelike deel van die produksiegebied wat vanjaar kwalik 25% van hulle gewone bokkie-oes gaan kry.
23 November 2007