'n Uitbreking van vrugtevlieë in die noorde van Namibië kos die landbou in dié land miljoene rand. Die vlieg - Bactrocera invadens - het vrugte en groente besmet en Suid-Afrika het sy grense vir produkte soos tamaties, mango's, waatlemoene en botterskorsies uit dié land gesluit.
Namibië het 'n nismark vir uitvoere van dié soort in Suid-Afrika omdat botterskorsies en waatlemoene 'n maand vroeër uit Namibië verskaf kan word. Die 600 ha Etunda-besproeiingskema in die Omusati-omgewing voer 80% van sy produkte na Suid-Afrika uit en moet nou sy oortollige voorraad teen spotgoedkoop pryse verkoop.
Mnr. Vilho Nghipondoka, bestuurder, sê die projek het al sowat N$4 miljoen verloor. Die Namibiese mark is te klein om die voorraad te absorbeer, voeg hy by. Namibian Food (Namfo), 'n uitvoerder in Tsumeb, het reeds die meeste van sy produkte uitgevoer.
Mnr. Hannes Arangies, dié maatskappy se bestuurder, meen dat die regering sal moet intree en 'n afgebakende opgawe doen om nog 'n besmetting te verhoed. "Die Suid-Afrikaners sal nie die grens oopmaak tot hulle die syfers het nie. Dit is 'n aggressiewe vrugtevlieg en kan 'n grootskaalse probleem word," sê hy.
Produkte wat met dié vrugtevlieg besmet is, is nie skadelike vir mense nie, maar die insek word as 'n "kwarantyn-organisme" geklassifiseer. Namibië se departement van landbou, waterwese en bosbou sê tegniese personeel hanteer die probleem.
Bron:
Allafrica
19 November 2008