Die Oesskattingskomitee kan vanjaar weer 'n teiken van kritiek wees oor sy ramings van die kommersiële mielie-oes nadat die Amerikaanse departement van landbou verlede week gesê het hy dink vanjaar se oes gaan 1 miljoen ton meer wees as wat die komitee sê.
In jy jongste skattings oor die vraag en aanbod vir verskeie mielieproduserende lande sê die Amerikaners hulle dink Suid-Afrikaanse mielieboere gaan vanjaar 'n oes van 7,18 miljoen ton afhaal. Die Oeskattingskomitee verwag egter 6,06 miljoen ton kommersiële mielies. Op die Amerikaanse departement se webblad word die totale Suid-Afrikaanse oes op 7,5 miljoen ton mielies geskat. Dié syfer sluit die ontwikkelende landbou se produksie in. As die Oesskattingskomitee se raming van 317 000 ton in die ontwikkelende sektor afgetrek word, is dit 'n skatting van 7,18 miljoen ton vir kommersiële boere.
Die Oesskattingskomitee is verlede jaar wyd gekritiseer dat hy die kommersiële oes oorskat het. Goeie oesskattings word in die algemeen as belangrik beskou omdat dit 'n dryfveer vir prysvorming is.
Mnr. Pieter van Schalkwyk, handelaar by UT Grain Management in Johannesburg, sê die twee verskillende oesskattings kan eerstens daarop dui dat die Amerikaners 'n groter opbrengs verwag of dat op 'n groter oppervlakte geplant is as wat die Oesskattingskomitee meen.
Van Schalkwyk sê gegewe die Amerikaners se skatting van 7,18 miljoen ton op 'n oppervlakte van 1,548 miljoen hektaar, dui dit op 'n nasionale gemiddelde opbrengs van 4,64 ton/ha. "Dit sal moeilik wees om te behaal omdat ons vorige skatting vir 'n rekordopbrengs 4,07 ton/ha is."
Luidens die jongste syfers van die Oesskattingskomitee kan 3,91 ton mielies per hektaar geoes word. Dié syfer is reeds verlaag omdat die komitee meen buitengewone goeie reën en minder hitte-eenhede kan die opbrengs verlaag.
Met die inagneming van dié syfer en die Amerikaners se produksieskatting, dui dit op 'n mielie-oppervlakte van 1,836 miljoen ha. Die Oesskattingskomitee se raming is 1,548 miljoen ha.
21 April 2006