
Die ekonomiese waarde van vlermuise in makadamiaboorde is van die interessante navorsingsprojekte wat in die noorde van Limpopo aangepak gaan word, sê prof. Peter Taylor van die Universiteit van Venda.
Dit is van die inligting wat tydens die Suid-Afrikaanse Makadamiakwekersvereniging (SAMAC) se navorsingsimposium in Tzaneen, Limpopo, bespreek is.
Vlermuise speel wêreldwyd 'n rol in die beheer van insekte op talle gewasse. Plaaslik het misontledings van vyf vlermuisspesies in makadamiaboorde by Levubu DNS van verskeie skadelike insekte bevat. Daarom kan aanvaar word dat vlermuise ’n belangrike rol te speel het in ’n geïntegreerde bestuursprogram vir stinkbesies.
Die Universiteit van Vende het ’n MSc-student wat die dieet van twee vlermuisspesies (Nycteris thgebaica en Mops midas) spesifiek ondersoek ten opsigte van die stinkbesies en die makadamianeutboordermot. In hierdie studie word die vlermuisbevolkings ook ondersoek.
In ’n ander studie is 74 vlermuishuise met vier verskillende ontwerpe in makadamiaboorde by drie verskillende plekke opgesit om te bepaal of die vlermuise spesifieke ontwerpe bo ander verkies.
Taylor sê ’n navorsingstudie wat vir 2015 beplan word, is om die ekonomiese waarde van vlermuise in makamdamiaboorde te bepaal. Hiervoor sal ’n gedeelte van ’n boord met ’n netbedekking toegemaak word sodat geen vlermuise toegang tot die gebied het nie.
Intussen het ’n besoekende vlermuisnavorser, dr. Merlin Tuttle van Texas in die VSA, daarin geslaag om ’n vlermuis met ’n stinkbesie in sy bek by suksesvol by Levubu af te neem. Vir dié doel is ’n spesiale mobiele ateljee ingerig, sewe spesies vlermuise en 100 stinkbesies is gevang en 10 000 foto’s is met spesiale kameras en fotografietoerusting geneem. Daar is dus nou ook ’n fotografiese bewys dat vlermuise wel stinkbesies vreet, het Taylor gesê.