
Graanbemarking is 'n deurlopende proses wat ingewerk moet word in die beplanning van die hele seisoen. Dit speel 'n rol vanaf finansiering tot strooptyd en lewering aan die einde van die seisoen.
Daar is verskeie finansiële instrumente beskikbaar vir die produsent om die graan te verkoop en sy risiko en inkomste te beskerm
Opsie-kontrakte:
Opsies is 'n wonderlike instrument om 'n produsent se inkomste te beskerm as die produsent nog baie onseker is van sy oes se grootte. Deur ‘n “put”-opsie op die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (JSE) te koop, verskans die produsent hom teen prysdalings en dit gee die produsent ook die geleentheid om wins te maak indien die prys sou styg. “Put”-opsies kan 'n groot impak op kontantvloei hê en as gevolg daarvan gebruik produsente ‘n kombinasie van “put” en “call”-opsies om kontantvloeiprobleme te voorkom. Die ander voordeel van opsies is dat dit ook waarde dra en verkoop kan word indien dit ‘n haalbare gedeelte van die graanbemarkingstrategie is.
Termynkontrakte:
Termynkontrakte word ook op die JSE verhandel in kontrakte van 50/100 ton (afhangend van die kommoditeit). Die kontrakte vereis dat die kommoditeit op 'n spesifieke datum by 'n silo afgelaai/opgelaai moet word. Termynkontrakte word gebruik wanneer die produsent seker is dat hy wel die gewenste hoeveelheid graan op die spesifieke tyd sal kan lewer. Die prys wat gelys is op die JSE sluit die liggingsdifferensiaal in. Die differensiaal is verskillend vir elke silo in die land waar graan gelewer word. Die lys van silo’s en differensiaalpryse is op die JSE se webwerf beskikbaar.
Die produsent moet sy differensiaal van sy leweringsilo aftrek om te bepaal hoeveel geld hy in sy sak steek. (Dit word ook die x-silo prys genoem). Indien die produsent sien dat hy nie op die gegewe tyd kan lewer nie, dan kan hy die kontrak altyd terugkoop.
Vooruitkontraktering
Vooruitkontrakte word gewoonlik tussen die produsent en 'n graanhandelaar aangegaan. Wanneer die produsent seker is van sy oes, kan hy 'n vooruitkontrak aangaan waarin hulle ooreenkom oor ‘n hoeveelheid wat gelewer moet word en teen watter prys. Hierdie is 'n private ooreenkoms tussen die koper en die produsent.
Kom ons illustreer dit deur 'n voorbeeld:
Gestel die produsent op Bothaville produseer op 1 000 ha 6 000 ton witmielies. Die huidige markprys op die JSE is R2100. Die aftrekking van die differensiaal is R209 per ton. Dus is die prys vir die produsent R1891/ton in sy sak.
Sy direkte insetkoste is ongeveer R7 000 per hektaar. Die oorhoofse koste van die boerdery eenheid is ongeveer R2 000 per hektaar. Dus is die totale koste R9 000/ha of R9 miljoen vir sy hele boerdery. Die gelykbreekpunt is dus R1 500 per ton (x-silo). Die gelykbreekpunt is bereken deur die totale uitgawes (R9 miljoen) te deel met die verwagte opbrengs van 6 000 ton. Die differensiaal moet hierby getel word om die prys dieselfde as JSE te kry, d.w.s. R1 709/ton. Teen die huidige markprys van R2100/ton is daar 'n wins van R2 100 minus R1 709 = R391.
Vroeg in die seisoen is dit verkieslik om van opsies gebruik te maak. 'n 2100 “Put”-opsie kos R150/ton. Dit beteken die produsent het 'n minimum prys van R1 950/ton. Die prys is hoër as die gelykbreekpunt. Dit is dus sinvol om ‘n hoeveelheid opsies te koop om seker te maak dat insetkoste verskans word.
Daar is egter 'n verskeidenheid van opsie strategieë wat die produsent kan gebruik.
Wat baie belangrik vir die opsiekoper is, is dat dit die produsent in staat stel om deur die onsekere tydperk te kom wat produksie aanbetref. Wanneer die produsent meer sekerheid het omtrent die grootte van sy oes, kan hy begin om van sy graan d.m.v. vooruitkontrakte te verkoop.
Gestel die prys van witmielies is R2 200/ton op die beurs, d.w.s. met die differensiaal van R209 afgetrek, beteken dit R1 991/ton. Die produsent besluit om 2 000 ton te verkoop. Die produsent het nou 'n keuse wat die “puts” aanbetref. Hy kan alles verkoop of hy kan besluit om die opsies te hou. Dié besluit sal geneem word nadat daar na al die markfaktore gekyk is om te besluit of dit winsgewend gaan wees vir die produsent. Opsie-kontrakte is 'n entiteit op sy eie en kan baie waardevol later in die seisoen wees, want ‘n opsie se prys is afhanklik van die termynkontrak se prys.
Gestel die produsent besluit om dit te hou. Die produsent het dus 2 000 ton se minimumpryse en 2 000 ton is reeds verkoop. Van die 6000 ton is daar dan nog net 'n risiko van 2000 ton. Daar is egter nog 4 000 ton wat nie geprys is nie. Die gedeelte wat nie geprys is nie se waarde gaan varieer soos die mark beweeg.
BVG het 'n model gebou waarin die waardes geïllustreer word oor 'n prysreeks. Die model wat ons die Graan Bemarkings Plan noem gee die produsent ‘n vinnige oorsig van sy bemarkingsplan en die wins en verlies van die boerdery. Dié graanbemarkingsplan fokus op die tydperk vanaf beplanning tot by stroop van die graan. Wanneer die graan eers in die silo is, is daar ander strategieë wat gebruik kan word.
* Chris Venter is besturende direkteur van BVG Commodities.
Klik op www.bvgcompetition.net om aan die graanverhandelingskompetisie deel te neem.