
Promosie-artikel:
Om só ‘n verwysingsraamwerk daar te stel, is dit nodig om die opbrengs en risiko van verskillende beleggingsinstrumente te ondersoek.
Die onderstaande grafiek wys dat daar ‘n korrelasie is tussen opbrengs en risiko. Meer spesifiek, as ‘n groter opbrengs nagestreef word, sal dit normaalweg gepaard gaan met groter risiko.
Grafiek:
Van links onder na regs bo op die grafiek vind ons vyf instrumente. In Suid Afrika se geval vind ons die volgende:
Kontant bied die laagste opbrengs, en laagste risiko. ‘n Voorbeeld hiervan is ‘n dag geld bankrekening waar die geld onmiddellik beskikbaar is. Koerse wissel tussen +- 1,00% en 7,00% per jaar met hierdie beleggings.
Die tweede instrument is vaste rente draende deposito’s, byvoorbeeld ‘n 3 maande kennisgewing bankrekening. Koerse hier beloop +- 7,00% (korter termyn) tot 9,00% (langer termyn) per jaar.
“Bonds” of te wel rente draende effekte is volgende in lyn. Koerse hier is +-6,00% per jaar vir staatseffekte (met laer risiko) en kan tot selfs 13,00% per jaar beloop vir korporatiewe effekte (“corporate bonds”). Lae gehalte effekte word na verwys as “junk bonds”.
Suid Afrika probeer juis huidiglik voorkom dat staatseffekte se gradering afneem na rommel status (“junk rating”.) Soos gesien kan word op die bostaande grafiek sal dit beteken dat beleggers ‘n hoër opbrengs vereis om te vergoed vir die risiko dat hulle hul geld kan verloor.
Die vierde instrument is eiendom. Eiendom bied potensieël beter opbrengs as effekte, en die onderstaande tabel wys dat die gemiddelde jaarlikse opbrengs 16,43% per jaar was vir die JSE Gelysde Eiendomsindeks oor die laaste 10 jaar.
Tabel:
Laaste op die lys is aandele, wat die hoogste opbrengspotensiaal van die vyf alternatiewe bied, maar daarmee saam ook die grootste risiko. Die gemiddelde opbrengs van die Top 40 indeks die laaste 10 jaar was 11,14% per jaar, terwyl die opbrengs van die Industriële indeks 18,90% per jaar beloop het (Sien tabel hier onder).
Tabel:
‘n Kategorie wat nie genoem word op die eerste grafiek nie, is private ekwiteit (“private equity”). Hierdie tipe beleggings kan ‘n hoër opbrengs as gelyste aandele bied, en die opbrengs van die beste bestuurders kan so hoog soos 20,00% per jaar wees. Daar is egter twee potensiële risiko’s met hierdie tipe beleggings:
~ Daar word nie baie diversifikasie toegepas nie, omdat daar nie in baie maatskappye op een slag belê word nie.
~ Likiditeit is ook ‘n probleem, aangesien aandeelhouding in hierdie maatskappy nie so geredelik verkoop kan word as in gelyste maatskappye nie. Dit gebeur soms dat hierdie tipe beleggings ‘n vyf jaar toewydinsperiode (“lock up”) vereis.
As daaroor nagedink word, kan die gevolgtrekking gemaak word dat meeste besighede, insluitend boerdery, ‘n vorm van private ekwiteit is.
‘n Relevante laaste punt is risiko. Die onderstaande grafiek wys die verskil in opbrengs aan die een kant, en risiko/volatiliteit aan die anderkant tussen aandele en effekte. Al is die grafiek geskoei op die Amerikaanse markte, is die konsep universeel toepasbaar: Deur bloot na die rooi ellipse te kyk, kan gesien word dat aandele meer afwaartse risiko inhou as effekte. Dit bevestig die stelling dat hoër opbrengste met hoër risiko’s gepaardgaan.
Grafiek:
Soos in ‘n vorige artikel genoem, word diversifikasie gebruik om ‘n aandele portefeulje se risiko te minimaliseer. Alle risiko kan ongelukkig nie vermy word nie, anders moet die belegging eerder in kontant gehou word.
Wat is die praktiese implikasie van die bostaande analise?
* Die blote feit dat kontant se opbrengs nie tred hou met inflasie nie, wys dat beleggers bereid moet wees om risiko te neem in ‘n eiendoms- of aandele portefeulje op die langtermyn.
* Die blootstelling aan hoër risiko bate klasse word deur elke belegger se eie situasie bepaal, byvoorbeeld beleggers nader aan aftrede moet minder risiko neem en gevolglik ‘n kleiner blootstelling in aandele neem.
* Gestel ‘n beleggingsportefeulje begin met R100 000,00 en verloor 50,00% van die waarde. Die waarde is dan R50 000,00. Vir die waarde van R 50 000,00 om terug te verander na R100 000,00 beteken dit dat die portefeulje nie met 50,00% nie, maar 100,00% in waarde moet toeneem. Die kanse om by die inisiële beleggingswaarde uit te kom, word dus al hoe skraler. Dit is juis die rede hoekom Warren Buffet se eerste belegginsreël is om nie kapitaal te verloor nie.
* As die beste maatskappye op die beurs sukkel om meer as 18,00% per jaar te maak, wat is die kanse dat daar op ‘n forex platform fabelagtige welvaart, of ‘n tweede inkomstestroom geskep kan word? Wat sal die kanse wees om met ‘n rekenaar pakket vir tegniese analise van die aandele mark ‘n opbrengs van 25,00% elke 6 maande te kan bewerkstellig? Die waarskynlikheid van beide hierdie scenarios is baie skraal. Indien sulke opbrengste wel van tyd tot tyd behaal word, gaan dit gepaard met groter risiko, en ‘n hoër waarskynlikheid om die totale belegging te verloor (die “risk of ruin” is groot).
? Edwin Smit is ‘n portefeulje bestuurder by BVG Financial Solutions, ‘n Gemagtigde Finansiële Dienste Verskaffer van die FSB (FSP 39889), en ook ‘n geregistreerde JSE handelaar van BVG Commodities (Lid van die JSE). Sy kontakbesonderhede is: (012) 484-4013 of edwin.smit@bvg.net.
Lesers is welkom om hom te kontak om in te teken vir BVG se daaglikse valuta- en aandele-mark oggendverslae. BVG werk, onder andere, in assosiasie met Momentum SP Reid Securities.