Dít desondanks die moeilike geldelike posisies waarin veral kleiner waterrade hulself bevind, het die Departement van Waterwese en Bosbou aan die Parlement se portefeuljekomitee vir water en bosbou gesê.
Die totale munisipale skuld aan waterrade beloop meer as R1 miljard.
Tog moet die waterrade voortgaan om water volgens die staat se gelyke aandeel-beleid aan alle inwoners te lewer ten spyte van subsidies wat afgeskaf gaan word.
Mnr. Silas Mbedzi, direkteur van institusionele oorsig by die Departement van Waterwese, sê waterrade word versoek om hul operasionele uitgawes te verminder en algemene stelsels te verbeter. Hy sê daar was die afgelope paar jaar in elk geval 'n duidelike afname in subsidies. In 2004 is gesamentlik bykans R120 miljoen aan waterrade betaal. Verlede jaar is net oor die R60 miljoen se subsidies betaal.
Hy sê die rede vir die groot skuld waaronder baie waterrade gebuk gaan, is die onvermoë en selfs onwilligheid van munisipaliteite om vir water te betaal.
Die redes hiervoor is dat die meeste munisipaliteite nie die geld wat weens watertariewe ontvang word, afbaken nie. Gevolglik beland dit in die algemene poel van die munisipaliteit se inkomste. Verder ag talle munisipaliteite nie rekeninge by die waterrade as voorkeurbetalings nie. Omdat waterrade meestal in landelike gebiede gevestig is, is die vermoë van inwoners om te betaal, skraps. Die meeste waterrade volg ook 'n beleid waar skuld afgeskryf word.
Ekonomiese verandering in die landelike gebiede, soos die sluiting van myne of verandering in die boerderybedrywighede, dra by tot van die kleiner rade se finansiële ondoeltreffendheid.
Dr. Nick King, hoof van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe, sê die hoeveelheid varswater wat die mens vandag tot sy beskikking het, is dieselfde as 'n duisend jaar gelede. Bevolkings groei egter en tegnologie kan slegs help om bronne beter te bestuur.
Landbouweekblad, 30 Maart 2007