
Sedert president Trump se oorwinning in November 2016 het die aandelemarkte tot alle verbasing positief begin reageer. Die verwagting was dat die Amerikaanse aandelemarkte dieselfde tipe afwaartse beweging sou maak as die Britse markte ná Brexit.
Die SP 500-indeks het egter die afgelope week ’n nuwe algehele hoogtepunt bereik. ’n Amerikaanse publikasie genaamd Marketwatch berig die huidige bul-lopie is die sterkste verkiesing-tot-inswering-lopie sedert Bill Clinton se tweede termyn in 1996.
As gevolg hiervan het dele van die sogenaamde ‘slimgeld’ onlangs na bewering geld verloor op die markte. George Soros, wat bekend staan as die man wat die Bank of England gebreek het in 1992, het na bewering $1 miljard verloor nadat hy probeer geld maak het uit ’n verwagte afwaartse markbeweging in die VSA.
’n Vraag wat tans deur baie beleggers gevra word, is watter aandele positief geraak kan word deur die nuwe Amerikaanse president. Ongelukkig was daar nie baie duidelikheid oor Trump se beleide voor sy inhuldiging op 20 Januarie 2017 nie. Hiermee saam word hy nie as ’n goeie kommunikeerder beskou nie. Behalwe op sy Twitter-profiel natuurlik.
Wanneer daar gekyk word na president Trump se “Make America Great Again”-verkiesingsveldtog, blyk dit dat die volgende industrieë voordeel mag trek uit sy presidentskap:
(A) Energie en olie maatskappye
Trump is blykbaar nie oortuig dat aardverwarming bestaan nie, of indien dit wel bestaan, dat dit ’n groot impak het nie. Hy wil dus poog om omgewingsregulasies te verminder om dit sodoende makliker te maak vir maatskappye om besigheid te doen. Sy mening is: te veel regulasie kos werksgeleenthede.
Dus wil hy Obama se “Climate Action Plan” en “Clean Power Plan” tot ’n einde bring. Die twee planne se gesamentlike doelwit was om uiteindelik die groenhuisgasse in die energiesektor met 30.00% te verminder. Hy meen sy plan om ’n deel van Obama se energiewetgewing te herroep, kan werknemers se lone met $30 miljard oor ’n 7 jaar-periode verhoog.
Wat steenkool aanbetref: Trump meen daar is baie olie- en steenkool-reserwes in die VSA wat gebruik moet word. Dus het hy onderneem om die oorlog teen steenkool te stop.
Trump steun laer belastingkoerse in baie bedrywe en tesame met minder regulering meen hy dit sal Amerikaanse maatskappye meer winsgewend maak. Laastens wil hy poog om die VSA onafhanklik te maak van ander energieverskaffers. Die doelwit om beide die steenkool- en natuurlike gasbedrywe te stimuleer mag dalk nie suksesvol wees nie, want meer beskikbare natuurlike gas lei gewoonlike tot laer steenkoolpryse.
’n Olie-maatskappy wat kan voordeel trek uit Trump se visie is Royal Dutch Shell. Die onderstaande grafiek illustreer die prysbeweging sedert 2015 tot die hede.
(B) Banke
Markte het ook positief reageer op die feit dat Trump die verkiesing gewen het. Beleggersoptimisme in die algemeen het sterk gegroei sedert Trump se oorwinning. Die banke is bevoordeel deur dié optimisme omdat daar meer transaksies op aandelebeurse plaasgevind het. Goldman Sachs en Citigroup het onlangs sterk 2016 vierde kwartaal-syfers bekend gestel.
Deel van die positiwiteit rondom Trump is toe te skryf aan die feit dat hy ’n meer akkommoderende regulatoriese omgewing vir banke beplan. Dit blyk egter dat kiesers wat Hillary Clinton in die verkiesing ondersteun het, meen dat die Trump-effek mettertyd sal afneem. Aan die ander kant is die opinie van mark-kommentators dat verminderde regulatoriese vereistes besparings van $27 miljard vir banke kan beteken oor die volgende 10 jaar.
Trump het tydens die verkiesing gesê dat hy die sogenaamde Dodd-Frank-wet wil herroep. Dié betrokke wet is in 2010 in werking gestel en poog om meer oorsig en regulering in die finansiële markte teweeg te bring. Hierdie wet het die grootste finansiële hervorming sedert die Groot Depressie van 1929 tot gevolg gehad. As besigheidsman meen Trump die verhoogde regulering maak dit onnodig moeilik vir banke om besigheid te doen.
Selfs internasionale banke kan deur sy beleid bevoordeel word, en gevolglik kan beleggers kyk na die Franse bank BNP Paribas.
(C) Infrastruktuur-maatskappye
Tydens sy inhuldigingstoespraak het Trump aangedui dat hy meen die infrastruktuur in die VSA het ver agteruit gegaan. Sy plan is om $1 triljoen oor ’n tydperk van 10 jaar te bestee op infrastruktuurhernuwing. Hy wil dus meer fokus op fiskale stimulasie as monetêre stimulasie. Die vraag is natuurlik waar die geld vandaan sal kom om die beoogde projekte te finansier.
Tydens sy verkiesingsveldtog het Trump aangedui dat private finansiering die hoeksteun sal vorm vir die infrastruktuurprojekte. Privaat-beleggers wat betrokke wil raak, sal bevoordeel word met belastingkortings. Trump meen dat wanneer die privaatsektor betrokke is by infrastruktuur-uitbreiding, is die eindproduk gewoonlik meer doeltreffend en goedkoper as vir soorgelyke staatsprojekte.
Haliburton is een van die grootste konstruksiemaatskappye in die VSA, en kan oorweeg word as deel van beleggers se buitelandse portefeujes.
(D) Vervaardigingsmaatskappye
Trump het ’n uitvoerende bevel onderteken wat die doelwit het om die burokrasie rondom vervaardiging te verminder. Volgens hom neem dit vervaardigers veels te lank om die relevante toestemming vir projekte te kry. Voorbeelde hiervan sluit in omgewingsimpakstudies. Die sogenaamde Keystone XL- en Dokata Access-pyplyne word as slagoffers hiervan gesien.
Motorvervaardigers was ook in Trump se visier tydens sy verkiesingsveldtog. Hy het genoem dat hy dit sal oorweeg om invoerbelasting op ingevoerde motors te hef. Na Trump se ontmoeting met GM, Fiat Chrysler en Ford se topbestuurder die laaste week, lyk dit egter of daar selfs voordele vir hierdie maatskappye kan wees. Sy beloftes van laer belastingkoerse en minder regulasies dui moontlik op meer winste vir dié maatskappye as hulle bereid is om gehoor te gee aan Trump se ander vereistes, soos byvoorbeeld om fabrieke na die VSA terug te bring.
General Motors se aandeelprys het reeds ’n drie jaar-hoogtepunt gemaak, en mag dalk selfs meer appresieer in die toekoms.
Watter voordele hou Trump se ambisies in vir Suid Afrikaanse maatskappye? Dit wil lyk asof die hulpbron maatskappye moontlike wenners mag wees.
Die onderstaande grafiek wys die verhouding tussen die Resi 20 (hulpbron)-indeks en die Top 40 (algemene)-indeks. Dit wil lyk asof die relatiewe sterker ondertoon wat die Resi 20-indeks reeds in 2016 begin ervaar het, moontlik sal voortgaan as gevolg van die Trump-effek.
Die instrument waarin belê kan word, is Satrix se Resi 20-beurs verhandelde fonds (“exchange traded fund” (ETF)). Dit bied ’n wye blootstelling in die hulpbronindustrie.
Wat verhandelings in internasionale aandele betref: hierdie tipe blootstelling kan verkry word deur middel van BVG Financial Solutions se samewerkingsvennoot, Momentum SP Reid Securities, se buitelandse verhandelingsplatform.
- Edwin Smit is ’n portefeuljebestuurder by BVG Financial Solutions, ’n gemagtigde finansiële diensteverskaffer van die FSB (FSP 39 889), en ook ’n geregistreerde JSE-handelaar van BVG Commodities (Lid van die JSE). Sy kontakbesonderhede is: 012 484 4013 of edwin.smit@bvg.net. Lesers is welkom om hom te kontak om in te teken vir BVG se daaglikse valuta- en aandelemark-oggendverslae. BVG werk, onder meer, in assosiasie met Momentum SP Reid Securities. BVG werk ook saam met een van die top 5 banke om vir kliënte rekeninge met hoër rentekoerse oop te maak.