
Die noemenswaardige styging die afgelope jaar in veral die stropery van renosters vir hul horings noop die Kruger Nasionale Park (KNP) om van militêre patrollies gebruik te maak, sê hoof uitvoerende beampte, mnr. David Mabunda.
Luidens ‘n berig op IOL is 94 renosters sedert die begin van die jaar in Suid-Afrika geskiet. Mabunda sê 38 van dié beskermde diere is in die KNP gedood, sewe in Gauteng, nege in Limpopo, vyf in Mpumalanga, 10 in Noordwes, vier in die Oos-Kaap en 21 in KwaZulu-Natal.
Mabunda sê gesprekke met die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag rakende die herinstelling van patrollering van die park se grense is gevorderd. Hy het dié nuus tydens die inlywing van 57 nuwe veldwagters bekend gemaak.
Veldwagters van SA Nasionale Parke (Sanparke) het vanjaar 22 wildstropers in hegtenis geneem. Dié organisasie het sowat R5,2 miljoen in sy stryd teen wildstropery belê. “Dié geld is gebruik om onder meer motorfietse, trapfietse, ‘n klein vliegtuig vir patrollies en toerusting vir nagwaarneming aan te skaf.”
Bron:
9 November 2009