
Maak ’n merkie in jou dagboek en kom geniet Wellington se veelbekroonde wyne en plaaslike fynproewerskos by die drie feesterreine op Diemersfontein, Bosman Family Vineyards en Welbedacht Wine Estate.
Die New Fashioned Boere Bazaar op Diemersfontein beloof ’n dag vol tradisionele Suid-Afrikaanse pret terwyl die Kaapse Affodille, Polkadraai Boere-orkes en Danie Willemse onder meer die feespas sal aangee.
Kos-en-wynparings betrek plaaslike wyne soos dié van Alkmaar Wines, Douglas Green, Jacques Smit Wyne en Hildenbrand en sluit tradisionele geregte soos ribbetjies, spitbraai, braaivleis, bobotie en ’n verskeidenheid kerries in.
By Bosman Family Vineyards word ’n kindervriendelike atmosfeer aangevul deur hul welbekende “Long Lunch”-vieringe. Kos- en wyntafels word beman deur top- plaaslike restaurante en wynkelders. Bykomende deelnemende plase sluit in Doolhof, Nabygelegen, Dunstone, Val Du Charron, De Compagnie, Andreas, Welvanpas Family Vineyards, Douglas Green, Napier Winery en Jorgensen Distillery.
Verdere aanbiedinge sluit in 'n wildevarkspitbraai, eksotiese Suid-Amerikaanse piekniekpakkies, 'n spesialis wyn-skemerkelkie-kroeg en unieke whisky-teater in die Vaatjiekelder aangebied deur Andy Watts, meesterdistilleerder van James Sedgwick Distillery.
'n Gelukstrekking sal gaste met wynpakkies beloon. Verdere deelnemende plase en produkte sluit in Bontebok Ridge, Limietrivier Alpaca farm, Douglas Green, Wellington Wines, Jacaranda en Malan de Versailles.
Toegangsinligting
Kaartjies vir die wynoesfees is op Ticketweb teen R100 per persoon te kry (gratis toegang vir o.18), hekke open om 10:00. As jy op die laaste minuut besluit om saam te kuier, sal daar ook kaartjies by die toerismekantoor sowel as die hekke van die drie feesterreine wees.
Vir meer inligting, die volledige program en 'n lys van deelnemende plase kontak 021 864 2479, stuur 'n e-pos na info@wellington.co.za of besoek www.harvestfestival.co.za.