Australië het reeds so ver op die gebied gevorder dat hulle spesiale wolveilings aanbied, waarop net die tipe wol aangebied word.
So sê mnr. Hendrik van Zyl, voorsitter van Cape Wools, wat verlede week van die IWTO se konferensie in Edenburg, Skotland teruggekeer het.
Van Zyl het op die nasionale NWKV-kongres gesê daar word tans gewerk aan 'n gedragskode om wêreldwye norme vir die produksie van organies geproduseerde wol daar te stel. "Hoewel dit nuwe geleenthede vir Suid-Afrikaanse wolprodusente daarstel, is dit nie iets wat deur almal toegepas sal kan word nie. Daar moet ook rekening gehou word met die feit dat dit nie net die produksie- maar ook die verwerkingsproses is wat aan dié gedragskode moet voldoen."
Hy sê een van die wolvesel se grootste mededingers bly katoen. Nie omdat laasgenoemde 'n beter vesel is nie, maar bloot omdat die katoenbedryf in Europa en die VSA reusagtig gesubsidieer word." Desondanks het die prysverhouding tussen wol en katoen oor die afgelope paar jaar van 3:1 tot 7:1 gestyg. Die verbetering is hoofsaaklik te danke aan hernieude pogings om wol by verbruikers te bevorder en die Wolmerk wat nog baie hoog geag word."
Van Zyl sê daar is tans 'n wêreldwye tekort aan wol nadat die vraag na die vesel die afgelope twee jaar gestabiliseer en produksie in veral Australië skerp afgeneem het. "Hoewel die Ausies aangedui het dat die mules-operasie, wat die Groenes die harnas injaag teen 2010 heeltemal uitgefaseer sal wees, is dit te betwyfel of hulle die mikpunt sal bereik. Dit is 'n pluspunt vir Suid-Afrika, aangesien dié praktyk nie hier byval vind nie," het van Zyl bygevoeg.
30 Mei 2007