Suid-Afrika is die enigste ter wêreld wat presies weet die dag waarop sy wynbedryf begin het danksy 'n inskrywing in Jan van Riebeeck se Dagregister op 2 Februarie 1659, wat in sy oorspronklike lui: "Heeden is Gode loff van de Caepse druyven d'eerste mael wijn geparst."
Van Riebeeck is in 1652 deur die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie of VOC na die Kaap gestuur om 'n verversingspos te stig wat sy skepe op pad na en van die Ooste om die Kaap van voedsel moes voorsien. Hy het as deel van sy tuinboubedrywighede ook die eerste wingerd hier geplant.
Suid-Afrika het pas 'n rekordjaar beleef, met meer as 400 miljoen liter wyn wat in 2008 na die buiteland uitgevoer is. Die verjaardag word onder meer gevier deur die versending van 'n elektroniese verjaardagkaart wêreldwyd aan mense in die wynbedryf. Plaaslike produsente is versoek om hierdie kaart ook na al hul kontakte oorsee te stuur, het Su Birch, uitvoerende hoof van Wosa (Wines of South Africa), gesê.
"Ons hoop om 'n miljoen mense op hierdie manier te bereik. Ons het alle rede om op ons wynbedryf trots te wees. Ons geniet internasionaal erkenning vir die eko-vriendelike wyse waarop wyn hier verbou en gemaak word, en in net tien jaar het ons ons uitvoere verdriedubbel."
Suid-Afrika is op agt na die wêreld se grootste wynprodusent.
2 Februarie 2009