
Altesame 183 vroulike plaaswerkers van Robertson het die meerderheidsaandeel van 66% verkry in ‘n maatskappy wat ’n kommersiële wyndruif- en vrugteplaas in die Robertsonvallei besit.
Constitution Road Wine Growers besit die plaas Klipdrift, wat bestuur word as ’n vennootskap tussen die Robertson Koöperatiewe Wynkelder (34% aandeelhouding) en drie werkerstrusts, naamlik die Le Chasseur-werkerstrust (21%), die Robertson-Oos-werkerstrust (26%) en die Robertson-Wes-werkerstrust (19%).
Die vroue se aandele is gekoop met geld van die voormalige Departement van Grondsake. Tydens die bekendstelling van die projek het mnre. Bowen Botha, bestuurder van Robertson Koöperatiewe Wynkelder, en Barry Kok, bemarkingsbestuurder, gesê die projek word gekenmerk aan volhoubaarheid en die toegevoegde waarde wat die plaas vanweë sy verbintenis met die kelder ontvang.
“Constitution Road Wine Growers kan inskakel by die kelder se bestaande infrastruktuur,” het Kok gesê. Die plaas se druiwe sal afsonderlik in die kelder gehanteer word en sal mettertyd sy eie handelsmerk kry.
22 Desember 2009