
Die Great Wine Capitals Global Network (GWC) vier vanjaar sy tiende bestaansjaar en het, as deel van dié vieringe, twee navorsers opdrag gegee om wyntoerisme in onderskeidelik Portugal en Kalifornië na te vors. Die doel van dié projekte, wat saam €10 000 (R115 000) kos, is om standaarde in wêreldwye wyntoerisme te verhoog.
Die twee navorsers is mnr. Ian McNeil in Kalifornië en die Suid-Afrikaans gebore me. Carla Silva, in Portugal. McNeil sal die uitwerking van wyntoerisme op Kalifornië se Napa-vallei bestudeer. Argentinië se verteenwoordiger op die GWC se opvoedingskomitee meen McNeil se bevindings sal gebruik kan word om toerismepotensiaal te ontgin sonder om natuurlike hulpbronne te skaad.
Silva sal op haar beurt navorsing doen oor die insigte oor kelders en wyn van Generasie X- (gebore tussen 1965 en 1977) en Y- (gebore tussen 1977 en 1988) verbruikers in Portugal se Duoro- asook die Napa-vallei. Die doel is om reklame, bemarking, openbare betrekkinge en verkope te verbeter.
14 Julie 2009