As hierdie grond vlak is en ’n hoë watertafel het, word versuiping ’n bykomende struikelblok. Die korrekte aanplanting van sojabone kan dié tameletjie in die toekoms aansienlik versag.
Die wydverspreide en uitermate nat toestande van Desember tot Februarie was ’n seën én ’n verwensing vir baie Suid-Afrikaanse boere. ’n Seën enersyds, want reën in hul waterskaars lande moet nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie.
Andersyds ’n verwensing omdat te veel vog in ’n kort tyd nie net skade aan grond en gewasse kan veroorsaak nie, maar ook sommige bewerkbare grond besonder moeilik maak om te bestuur. Die nat weer is egter nie noodwendig hier om te bly nie.