Dr. Stoffel du Toit bedryf sy familieboerdery deeltyds by Hopetown. Hy sê as hy nie die meeste van sy tyd in Bloemfontein by sy mediese praktyk deurbring nie, is hy op sy gelukkigste wanneer hy sy kreatiwiteit op die plaas uitleef deur eiehandig gereedskap en werktuie van yster op te tower.
Die benutting van turksvye as veevoer is die afgelope jare alom bekend in Suid-Afrika, veral as oplossing in droogtetye. Die Suid-Amerikaners, wat die wêreldleiers op dié gebied is, sal beslis moet kennis neem van die deurbraak van Du Toit en sy medewerker, dr. Christopher Rothman, ’n navorser aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Hulle het daarin geslaag om die turksvypulp as neweproduk van die verwerkingsproses van die vrugte te stabiliseer om die raklewe daarvan te verleng nadat die fermentasieproses stopgesit is.