Min dinge frustreer ’n boer soveel soos wanneer hy iets moet oplaai wanneer hy alleen is, maar dit nét te swaar is vir hom. Dan smag hy na hulp, of na ’n nuttige klein hyskraan soos dié wat deur mnr. André Cilliers, ’n deeltydse boer en sakeman van Krugersdorp, ontwerp is.
Cilliers het op ’n plaas by Lindley grootgeword, waarna hy die sakewêreld betree het. Hy het egter altyd sy eie boerdery begeer en het in 2014 deeltyds op ’n stukkie huurgrond op die plaas Kloofrus by Krugersdorp met vee begin boer.
Daar het hy gou agtergekom hy het die aanleg om praktiese patente uit te dink en bou. Dit bespaar hom geld gemeet aan nuwe werktuie, wat sy klein boerdery nie kan bekostig nie, want hy glo daaraan dat die plaas sover moontlik vir homself moet betaal en bestee nie graag sy sake-inkomste aan die boerdery nie.