Sit ’n plan voor Bultfontein se kampioenplanmaker neer, en hy verander dit onmiddellik in ’n kommersiële uitvoerproduk. Met toestelle vir plaaswerk wat strek van die bestryding van onkruid tot aangepaste planters het mnr. Michris Janse van Rensburg nou al byna kultusstatus bereik.
Janse van Rensburg, van die plaas Mooiuitsig, het onlangs die behoefte vir warm water in werkershuise op sy plaas raakgesien en ’n eenvoudige warmwaterstelsel gebou ná hy ’n slim stofie by ’n Oos-Kaapse boer raakgeloop het.
Dit is die eerste keer dat hy ’n oplossing vir ’n huishoudelike toestel aanpak (en waarskynlik ook nie die laaste nie). Die beginsel waarvolgens die eenvoudige stofie werk, is om sowat 20 liter water te verwarm, terwyl die kos op die stofie gaargemaak word.