Organiese materiaal is in wese plantmateriaal wat bo-op die grond lê of binne die grond is. Plante, of altans dooie plante, wat bo-op die grondoppervlak lê, het ’n groot rol te speel met die indringing van water in die grond.
Dit speel ook ’n baie groot rol in die voorkoming van verdamping van die vog weer terug in die lug in. Gaan kyk maar in goed bedekte grond met baie materiaal bo-op die grond hoe die plantmateriaal spreekwoordelike dammetjies vorm en die vloei van water vertraag.
Só skep dit meer tyd vir die water om die grond in te dring. Dit help ook baie om die impak van reën op die grondoppervlak te versag. Die meeste mense weet wat gebeur met kaal grond wat beplant is en net ’n taamlike harde bui reën kry.