Met ’n hidroponiese stelsel wat met sonkrag werk, kon ’n skaapboer van Namibië tydens die afgelope droogte 900 ooie per dag kos gee. Mnr. Johnny Hanekom van die plaas Sandrucken naby Maltahöhe het met dié stelsel elke dag 3 ton groenvoer vir sy Meatmaster-ooie geproduseer.
Die hidroponiese stelsel was ’n outomatiese keuse omdat hy sy eie sonkragonderneming op Keetmanshoop het. Alles op sy plaas werk met sonkrag omdat hy nie aan die nasionale NamPower-kragnetwerk gekoppel is nie.
Die hidroponiese eenheid produseer groenvoer vanaf garssaad in ’n geslote ruimte waarin die humiditeit en hitte konstant gehou en besproeiing outomaties verskaf word.