Rhenostervallei Beefmasters is gereeld onder die toptien vleisbeesstoetkuddes in Vleissentraal en SA Stamboek se jaarlikse kompetisie, en het al ’n slag die eerbewys gewen.
Vanjaar was hierdie spogkudde van dr. Hendrik en me. Ronel Meyer in die tweede plek. Hendrik het tot onlangs toe nog by sy veeartspraktyk in Boksburg gewerk en Ronel, ’n wiskundige, was dosent aan die Universiteit van Pretoria.
Die Beefmaster-stoetery wat hulle op die plase Rhenostervallei by Radium en Roodepoort naby Mookgophong in Limpopo bedryf, geniet eintlik eers hul volle aandag sedert 2020, toe hulle op Roodepoort kom bly het tydens die covid-19-inperking.