
Outydse tegnologie word nou ingespan deur saaiboere in ’n desperate wedloop teen tyd om hul oeste te red van reënskade. Waar trekkers en meganiese kunsmisstrooiers in die nat lande vasval, kan iemand wat tussen die rye met ’n kunsmistoediener loop, wel die werk gedoen kry, al duur dit langer.
Nie net kan Suid-Afrikaanse boere ’n plan maak nie, hulle is meer as bereid om hard te werk as die oplossing dit verg, sê mnr. Michris Janse van Rensburg, boereplanmeester van Bultfontein. Hy kon die afgelope weke nie voorbly om sy Backsaver-kunsmistoediener aan boere oor Suid-Afrika heen te verskaf nie. Sy werktuie word eintlik vir kleinboere vervaardig wat met hande-arbeid hul oeste moet verbou en is daarop gemik om dié boere arbeid te bespaar en vermorsing te voorkom. Maar in hierdie buitengewoon nat jaar het selfs kommersiële boere by hom kom aanklop vir dié “lae-tegnologie oplossing”.
“Jy moet die oorlewingsdrang van ’n boer nie onderskat nie. Hier sit hy nou voor ’n krisis. Hy moet kunsmis kan toedien om sy insetkoste terug te kry en ’n wins te maak, maar sy trekkers val vas. Nou maak hy ’n ander plan, al verg dit meer harde werk.”
Hy vertel van een boer in die distrik Ermelo wat 20 van die toedieners gekoop het. Nadat hy sy lande klaar kunsmis toegedien het, verhuur en leen hy dit nou uit aan ander boere.
“Ja, een se moeilikheid is ’n ander een se brood. Ek was lekker besig gewees,” sê Michris, maar voeg ook by dat sy toerusting nog altyd boere in nood kon help.
’n Ander boer het op ’n Saterdagoggend by hom kom toedieners koop en dieselfde middag het hy ’n video gestuur waar hy self in die lande saam met die werkers geloop en kunsmis strooi het.
“Ek weet daardie boer sou verkies het om in ’n trekker met lugversorging en alle nuwe tegnologie te sit en sy mielies kunsmis te gee op ’n Saterdagmiddag, maar hy moes dringend ’n plan maak en hy het gesien hier is ’n oplossing.”
Michris glo sy gereedskap, wat ontwerp is dat dit die korrelkunsmis eweredig uitmeet en strooi, kan boere help om die oes te red. “Ek het gesien boere gee vir manne ’n kunsmissak en ’n emmer en hulle loop en strooi, maar kunsmistoediening met die hand is ondoeltreffend. Elke ou se handgrootte en loopspoed verskil.” Hy bereken die verskil in opbrengs kan tot 3 t/ha méér wees as boere nou die nodige kunsmis met die Backsaver kan toedien.
“Jy weet, my oupa het altyd gesê die grond hou net ’n plant regop, jy moet kunsmis toedien. As hierdie outydse manier van toediening dit wel moontlik maak, is die ekonomiese waarde daarvan enorm.”