Boere stort ’n oneindige hoeveelheid geld in veldverbetering, want beter veld beteken dat meer vee winsgewend aangehou kan word. Dit beteken dikwels dat indringerbosse tot elke prys bekamp moet word. Los jy dit, kan dit grasse verdring en só toeneem dat die veld se drakrag te laag vir ’n volhoubare boerdery is.
Vra maar vir mnr. Koos Briedenhann van die plaas Buffelhoek by Otjiwarongo in Namibië. Hy en sy pa, Timo, boer met Damara-skape en gemengde vleisbeesrasse. Jare gelede het indringerbosse hul boerdery soveel gepootjie dat hulle ’n plan moes beraam.
Ondanks chemiese bosbekamping het sekelbosse net toegeneem. Dit het hulle gevolglik niks gebaat in hul strewe na veldverbetering nie. Die bekamping van indringerbosse het ’n leeue-aandeel in Timo en Koos se sukses.