Lekke vir skape op natuurlike weiding of stoppels is ’n noodsaaklike deel van die meeste skaapboere se voerprogram. In die Wes-Kaap se nat wintermaande gaan lekkorrels egter dikwels tot niet.
Mnr. Boeta Wessels (foto bo) van die plaas Karsrivier by Bredasdorp het goedkoop vreettrôe gemaak uit deurgesnyde plastiekhouers wat stewig in ’n spesiale ysterraam vasdruk. Wessels het jare lank spoorelementvoeding vir sy skape in 20 liter-plastiekhouers ontvang.
Hy het altyd daarvan ontslae geraak saam met die plastiek-gifkanne wat gifmaatskappye gereeld op plase kon haal en hersirkuleer. Hy het egter toe ’n plan beraam en van die plastiekhouers middeldeur gesny en die helftes langs mekaar aan ’n houtraamwerk vasgekap, wat weer in ’n ysterraamwerk gepas het.